OUDTSHOORN NUUS - Die plaaslike inwoners van Zoar, die groter Kannaland, maar veral die Khoisan-Gemeenskap in die Wes-Kaap, het met skok kennis geneem van die skielike heengaan van die 80-jarige hoofman, James Jacobs.
Volgens hoofman Jacobs se vrou, Sheila (80), het "Oom James" soos hy in die gemeenskap bekendgestaan het, stil in sy slaap heengegaan.
"Dit was onverwags, want James het niks gekla nie, maar soos die dokters sê, "dit was ouderdom en natuurlike oorsake".
Hy het ook onlangs sy sig verloor, maar het nog steeds soggens vir ons koffie gemaak. My man was godsdienstig en ons het selfs nadat hy blind geword het, elke aand soos gewoonlik voortgegaan met huisgodsdiens.
Hy het ook later Sondae vir ons kerk in die huis gehou," vertel 'n emosionele Sheila.
Die egpaar was vir 57 jaar getroud en het drie kinders - 'n dogter Benita, wat toevallig verlede Sondag vyftig jaar oud geword het, twee seuns, Dennis (57) en 'n broer wat hulle reeds ontval het.
Volgens Sheila was haar man eers 'n klerk by die destydse Kleurlingsake en later skoolhoof in Manenberg.
Die begrafnis word vir Saterdag 11 Februarie vanuit die saal by die Sportterrein-klubhuis beplan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'