OUDTSHOORN NUUS - Bykans 2 000 mense het verlede Vrydag en Saterdag die PURE Kersmark by die Cape Karoo Ostrich Emporium ondersteun.
Volgens Mindi Breunissen, organiseerder van die mark, was daar 25 uitstallers wat deur die bank getuig het dat dit 'n uiters suksesvolle twee dae was.
Breunissen sê dit was die tweede PURE Kersmark en dat dit die vorige een by verre oortref het.
Die Kersmark was 'n inisiatief om entrepreneurs van die omgewing die geleentheid te gun om produkte van hoogstaande gehalte, wat veral met die hand vervaardig is, ten toon te stel. Produkte het gewissel van vars groente, varsgebak, klere, speelgoed, seep, olywe, skoene tot boeke van 'n plaaslike uitgewer.
Die deure het Vrydagoggend om 09:00 oopgemaak en weer om 18:00 gesluit. Saterdag was die mark vanaf 09:00 tot 17:00 oop en elke besoeker en uitstaller moes by die ingang registreer, temperatuur meet, hande ontsmet en 'n masker dra.
In reaksie op die mark het Breunissen gesê: "Dit was ongelooflik om deel te wees van iets wat so positief deur Oudtshoorn ontvang is en ons gaan dit beslis weer doen."
Een van die stalletjies waar plaaslike produkte aangebied is.
Janine, was een van Oudtshoorn se veelsydige musikante wat by die mark opgetree het. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'