OUDTSHOORN NUUS - Personeel van die Oudtshoorn-hospitaal is besig om geskenke in te samel vir kinders wat oor Kersfees in die hospitaal gaan wees.
Volgens Emma Cairncross-Bosman, 'n radiografis van die hospitaal, weet sy en haar span by die radiologie-afdeling, dat geld en geskenke weens die Covid-19-pandemie skaars is.
"Ons het dit verlede jaar ook gedoen. Dit is vir niemand lekker om siek te wees oor Kersfees nie, so dit is maar ons manier om dit veral vir die kinders te probeer lekker en spesiaal maak."
Volgens haar het hulle 'n maatskaplike werker wat verantwoordelik is om die geskenke by die regte instansies en kinders uit te kry.
"Ons kyk hoeveel ons ingesamel kry en dan besluit ons hoe ons dit gaan verdeel."
Cairncross-Bosman sê enigiemand wat 'n pakkie wil skenk kan dit by die menslike hulpbronnebestuur se gebou by die Oudtshoorn-hospitaal by Helen Human afgee.
Die geskenk moet duidelik gemerk word of dit vir 'n seun of dogter is en vir watter ouderdomme. Geskenke vir kinders tussen die ouderdomme van 0 tot 12 jaar oud word gesoek.
"Mense kan enigiets in die pakkie sit. Ons soek gewoonlik iets soos waslappe, sepies, tandepasta, 'n speelding, 'n lekkertjie, inkleurkryt en -boeke of 'n bal. Dit gaan nie oor waarde nie, maar net om 'n kind wat dit nodig het se hart bly te maak."
Van verlede jaar se geskenke wat aan kinders uitgedeel is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'