OUDTSHOORN NUUS - Verskeie geestelike leiers, wat deel vorm van die Spiritual Crime Intervention Forum, het verlede Donderdag bymekaargekom.
Alle kerkleiers in die Groter Oudtshoorn-distrik is uitgenooi om die publieke vergadering by die Thusong-sentrum in Bongolethu by te woon.
Hierdie forum, wat verlede jaar in September deur die Oudtshoorn-polisie op die been gebring is, het hul eerste vergadering in Februarie gehou om 'n strategie teen die stygende misdaad in Oudtshoorn te beplan.
Pat Blaauw, GPF Oudtshoorn-voorsitter het op die swak opkoms van die vergadering gesê dat hierdie forum klein begin, maar later sal uitskiet wanneer ander kerkleiers die waarde daarvan sien.
Bishop David Botha het gesê dat die kerkleiers wat teenwoordig is moet fokus op die doel waarom die forum gestig is en doen wat gedoen moet word.
Ter afsluiting van die byeenkoms het Ranger Grebe, projekbestuurder van dié forum gesê dat dit tyd is om God weer die fokuspunt in Oudtshoorn te maak en dat die forum hande wil vat met mense wat 'n verskil wil maak.
"Die forum is 'n platform wat projekte bou om 'n geestelike aanval in ons dorp teen die bose magte te loots en so herstel en hoop na Oudtshoorn terug te bring," het hy gesê.
Die volgende projekte word beplan:
- Pa en seun restourasiekamp
- Godsdiens wat elke Maandag by skole sal plaasvind (toestemming sal verkry word by die betrokke skoolhoof)
- Taxi-staanplek uitreik; 6 Mei vanaf 08:00 tot 12:00
- Jeugdag, 16 Junie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’