OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n man van Beaufort-Wes wat teregstaan op twee aanklagte van moord en een van aanranding met die opset om ernstig te beseer, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende maand uitgestel na die sluiting van die staat se saak.
Raymond Kelley (35) word daarvan aangekla dat hy op 12 Julie 2015 'n man en op 31 Desember 2015 ook 'n vrou, doodgesteek het.
Hy word ook daarvan aangekla dat hy op 11 September 2017 'n vrou geskop en met 'n sambok geslaan het.
Die laaste staatsgetuie, kapt. Christiaan van Zyl van die Beaufort-Wes Veediefstaleenheid, het Vrydag oor 'n verklaring van die beskuldigde ten opsigte van die tweede aanklag getuig.
Volgens hom is hy deur die ondersoekbeampte, ao. Sarel Olckers gevra om 'n bekentenis van Kelley af te neem.
Kelley het hom meegedeel dat hy die aand van 29 en 30 Desember 2015 na die huis van Johannes Frieslaar in Prince Valley gegaan het om na ene Dicky te gaan soek.
Hy het aan die kombuisdeur geklop en by 'n man wat later oopgemaak het, na Dicky verneem. Die man het hom meegedeel dat daar nie 'n Dicky bly nie.
'n Vrou het toe uitgekom en met 'n mes na hom gesteek. Hy het geval en toe hy opstaan het die man en vrou hom bestorm.
Hy het 'n mes uitgehaal om homself te verdedig en die vrou raakgesteek. Volgens hom was dit rondom die skouer en twee of drie keer.
Die vrou het daarna om die huis verdwyn en het hy haar nooit weer gesien nie. Hy het vir sy tante gaan sê dat 'n vrou hom in sy regterwang gesteek het, maar was nie hospitaal toe vir behandeling nie.
Kelly se regsverteenwoordiger, adv. Pieter van Wyk, wou by Van Zyl weet of sy kliënt nugter was met die aflê van sy bekentenis waarop Van Zyl geantwoord het dat hy "heeltemal nugter en by sy volle positiewe" was.
Die saak is daarna op versoek van die verdediging vir verdere instruksies deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 24 November uitgestel. Hyron Goulding verskyn vir die staat en Kelley bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'