KAROO NUUS - Wynkelders is verheug dat hulle onder die nuwe inperkingsmatreëls wel toegelaat word om wyn oor naweke en vakansiedae te verkoop.
Die vergunning is in regulasie 44 van die staatskoerant vervat nadat president Cyril Ramaphosa Dinsdagaand aangekondig het dat inperkings nou na vlak-3 geskuif is.
Volgens Boets Nel van De Krans op Calitzdorp is hierdie regulasie baie positief vir die wynbedryf en veral vir wyntoerisme wat swaar gebuk gaan onder die gevolge van die vorige inperkingsmaatreëls.
Dit is veral goeie nuus in die lig van die Calitzdorp Uncorked-fees wat hierdie naweek beplan word. Alhoewel die aantal mense in lokale streng volgens Covid-19-regulasies beperk moet word, kan die fees voortgaan.
Kelders kan steeds wynproegeleenthede aanbied en wyn vir tuisverbruik verkoop gedurende alle normale gelisensieerde handelsure, insluitend naweke en publieke vakansiedae.
Calitzdorp Uncorked is die nuwe naam vir die gewilde Winterfees wat op sy beurt die Port-fees as voorloper gehad het.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'