OUDTSHOORN NUUS - Drie van die vier mans van die Oos-Kaap wat 'n jaar gelede drie voertuie op Oudtshoorn gesteel het, is gister in die Oudtshoorn-streekhof elk tot dertien jaar gevangenisstraf gevonnis en die vierde tot tien jaar.
Die vier motordiewe, Lusanda Hlomela (35), Yandisa Msebenzi (31), Mawethu Kolweni (36) en Xola Moja (30) het in pleitverduidelikings, wat aan die hof voorgelees is, breedvoerig verduidelik hoe hulle te werk gegaan het om die nag van 20/21 Augustus 2018 die drie voertuie, 'n Hyundai van Gideon de Villiers in Elleystraat, 'n Toyota Corolla van Anja Dippenaar in Buitekantstraat en 'n Isuzu-bakkie van Louis Alberts in Jan van Riebeeckweg te steel, en is elk op die drie aanklagte van voertuigdiefstal skuldig bevind.
Hulle het getuig dat hulle deur iemand, wat hulle net as Gadafi geken het, genader is om na Oudtshoorn te kom om voertuie te steel waarvoor hy elk R1 500 sou betaal. Hulle het ingestem omdat hulle werkloos was, maar het nooit die geld ontvang nie.
Die staatsaanklaer Brendon Smith, het die hof versoek om nie af te wyk van die voorgeskrewe vonnis vir voertuigdiefstal nie omdat die beskuldigdes spesiaal en goed voorbereid na Oudtshoorn gekom het vir 'n misdaad.
Die polisie het gesofistikeerde toerusting in die Volkswagen Polo waarmee hulle gekom het, gevind. Hieronder was gereedskap waarmee elektriese hekke oopgemaak kan word, sleutels vir voertuie, leë houers vir ekstra brandstof, handskoene en balaklawas.
Wenzel Botha van die Regshulpraad, wat vir Hlomela en Moja verskyn het, het die hof versoek om tog af te wyk van die voorgeskrewe vonnis en opgeskorte vonnisse te oorweeg. Volgens hom sou 'n verhoor sowat 19 hofdae duur wat die staat 'n aansienlike bedrag uit die sak sou jaag.
Die regsverteenwoordiger van Msebenzi en Kolweni, Mathilda van Niekerk, het die hof versoek om in ag te neem dat die beskuldigdes skuldig gepleit het en nie die hof se tyd gemors het nie. Daar was ook geen geweld of mense wat beseer is nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê die beskuldigdes was goed voorbereid en het gesamentlik beplan om die voertuie te steel. Hulle het dit ook almal erken. Hulle is skuldig bevind aan ernstige misdrywe en die slagoffers se regte moet ook vir vonnis in ag geneem word, het sy gesê.
Volgens haar is voertuigdiefstal 'n nasionale probleem en wat kommerwekkend is, is dat die diewe na klein plattelandse dorpe soos Oudtshoorn kom.
"U is jong mense wat veronderstel is om die land te help bou en nie op andere se rûe te ry nie. En om arm of werkloos te wees is geen rede om voertuie te steel nie," het sy afgesluit.
n Kapt. Mariana Vos van die Oudtshoorn SAPD-voertuigtak het na die vonnisoplegging haar tevredenheid daarmee uitgespreek en haar dank uitgespreek teen die staatsaanklaer, Brendon Smith, asook almal wat betrokke was by die ondersoek en inhegtenisneming van die verdagtes met spesiale vermelding van adjudant-offisier Behri Botha, die ondersoekbeampte, die King Williams Town, Butterworth en Oudtshoorn sigbare polisie, die K9 Honde-eenhede van Oos-Londen en King Williams Town, die verkeersafdeling van Buffallo City, die Valke, die Oudtshoorn-speurdiens en 'n selfoonanalis van Pretoria.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'