Elizabeth en die tweeling Arnold (jnr) en Vian het hulle hare laat kleur as ondersteuning aan Arnold (snr) wat in November gediagnoseer is met Ewing Sarkoma, 'n seldsame kanker wat gewoonlik by kinders voorkom. Arnold moet daagliks George toe ry vir bestraling, maar is moedig en positief oor sy stryd.
"Ek is 'n survivor," kondig hy aan, maar erken dat die siekte en die stryd nie maklik is nie. Oudtshoorniete kan aan die Shavaton deelneem deur hulle hare op Saterdag 2 Maart by die Queens Mall te laat skeer, kleur of jel.
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) vier vanjaar die tiende KANSA Shavaton en moedig een en almal aan om deel te neem. Shavaton 2013 word aangebied van 25 Februarie tot 2 Maart by die werksplek of by winkelsentrums, waar mense hul hare kan laat skeer, sproei, stensil of vir die eerste keer in 2013 hul hare ook kan laat jel vir 'n donasie van R50 (R25 vir kinders jonger as 12).
Shavaton is vir die eerste keer in 2003 in die Oos-Kaap aangebied om vir mense die geleentheid te skep om solidariteit te betoon en ondersteuning te bied aan diegene wat geraak is deur kanker omdat die verlies van hare 'n algemene newe-effek van die behandeling van kanker is. As bewys van hul ondersteu-ning skenk Shavaton-deelnemers 'n donasie om hul hare te laat skeer of in verskillende kleure te laat sproei. Die donasies word deur KANSA gebruik om 'n diens te lewer aan die publiek en aan alle mense wat geraak word deur kanker
KANSA het die aftelling na die 10de Shavaton begin deur gasheer te speel vir 'n mini Shavaton wat onlangs gehou is. Onder die spesiale gaste was die 13-jarige Matthew Moffet, 'n hoë funksionerende outistiese student. Matthew het sy hare vir 'n jaar lank gegroei sodat sy hare geskeer kon word as 'n bewys van sy ondersteuning van kankeroorwinnaars. Matthew se hare is geskeer deur KANSA se hoof uitvoerende beampte en self ook 'n kankeroorwinnaar, Sue Janse van Rensburg.
Sizwe Lawrence Ndlovu, Suid-Afrika se Olimpiese goue medalje-wenner vir roei in 2012, het ook die mini Shavaton ondersteun. Sizwe se ma is oorlede aan kanker. "Ek neem deel aan Shavaton tot eer van my ma wat vir my 'n steunpilaar was. Ek wil seker maak dat ander – veral ander ma's – bewus word van kanker om ander te help en te ondersteun," het hy verduidelik.
Die korporatiewe wêreld, werkplekke en skole kan hulle steun wys van 25 Februarie tot 1 Maart deur Shavaton landswyd te ondersteun by die naaste winkelsentrum op Saterdag 2 Maart. Janse van Rensburg sê: "Dit is ons 10de Shavaton en ons daag alle Suid-Afrikaners uit om te wys hulle ondersteun ons en kankeroorwinnaars in die stryd teen kanker. Ons is opgewonde om vir die
eerste keer gekleurde jel bekend te stel vir diegene wat met 'n meer uitdagende en 'funky' haarstyl wil spog."
Wys 'virtuele' ondersteuning – word 'n aanlyn Kampioen
KANSA het 'n aanlyn platform geskep vir vrywilligers en korporatiewe Suid-Afrika om deel te neem as aanlyn 'Kampioene' om fondse in te samel en om 'n kans te staan om baie pryse te wen. Sluit aan deur op die 'like' knoppie op KANSA se Facebook- blad te klik (https://www.facebook.com/CANSAShavathon) en word deel van KANSA se aanlyn gemeenskap om te help om die boodskap wyd en syd te versprei. Besoek www.shavathon.org.za vandag nog om aan te teken of om 'n veilige aanlyn skenking te maak.
Janse van Rensburg sluit af, "Elkeen kan deelneem. So, word 'n vrywilliger, registreer jou maatskappy as gasheer van 'n Shavathon of registreer as 'n aanlyn Kampioen en help ons om fondse in te samel. Besoek www.shavathon.org.za vir verdere besonderhede."
Die Verwey-gesin het Dinsdag hulle hare laat kleur om hulle pa en eggenoot, Arnold, te ondersteun in sy stryd teen kanker. Karin Louwrens (links) het die gesin onder hande geneem en selfs die wors-hond Ore het 'n paar helder kolle gekry. Die Verweys is Elizabeth en Arnold en hul tweeling seuns Arnold junior (voor) en Vian. Foto: Hannes Visser.