OUDTSHOORN NUUS - Die bedrogsaak teen vier senior amptenare van die Kannaland-munisipaliteit is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir pleit en verhoor tot September uitgestel.
McGrandile Makier (43), menslike hulpbronbestuurder, Hendrik Barnard (48), direkteur: korporatiewe dienste, Morné Hoogbaard (46), munisipale bestuurder en Nigel Delo (48), voormalige hoof van finansies, word daarvan aangekla dat hulle oor ‘n tydperk die Oudtshoorn-streekhof glo uit meer as R338 miljoen bedrieg het.
Hulle word aangekla van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Makier, Barnard en Delo is op 25 November verlede jaar deur die Valke se ernstige misdaadspan in hegtenis geneem terwyl Hoogbaard homself later aan die Valke oorgegee het.
Borgtog van R15 00 is in die Ladismith-landdroshof aan die vier toegestaan waarna die saak na die Oudtshoorn-streekhof oorgeplaas is.
Die staat beweer dat die beskuldigdes hulself verryk het deur ondermeer bedrieglike aanstellings in senior poste te maak asook onregmatige oortyd- en verlofuitbetalings.
Die staatsaanklaer, adv. Razia Valley-Omar, sowel as die verdagtes se drie regsverteenwoordigers, het die hof Woensdag meegedeel dat hulle gereed is om met die verhoor te begin.
Die regsverteenwoordigers het op ‘n vraag van die landdros ook bevestig dat hulle hul kliënte meegedeel het dat hulle tot vyftien jaar gevangenisstraf opgelê kan word indien hulle skuldig bevind word.
Hierna is die saak deur streeklanddros Sylvia Mandla vir drie dae se verhoor, van 5 tot 7 September uitgestel omdat dit die eerste datums is wanneer al die regsverteenwoordigers beskikbaar is.
Die beskuldigdes se borgtog van R15 000 elk sowel as hul borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Vorige artikel: Valke slaan toe op Kannaland
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'