OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die vier senior amptenare van die Kannaland-munisipaliteit is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir verhoor tot 2023 uitgestel nadat vertoë wat hulle tot die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging (DOV) gerig het om die saak van die hofrol te verwyder, onsuksesvol was.
Die vier verdagtes, McGrandile Makier, menslike hulpbronne-bestuurder, Hendrik Barnard, direkteur - korporatiewe dienste, Morné Hoogbaard, munisipale bestuurder en Nigel Delo, voormalige hoof van finansies, word daarvan aangekla dat hulle oor 'n tydperk die Kannaland munisipaliteit glo uit meer as R338 miljoen bedrieg het.
Hulle word aangekla van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Die staat beweer dat die beskuldigdes hulself verryk het deur ondermeer bedrieglike aanstellings in senior poste te maak asook onregmatige oortyd- en verlofuitbetalings.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en uitgestel tot 8 Mei 2023.
Die vier se borgtog van R15 000 elk is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'