LADISMITH NUUS - Konst. Shamiela Arendse, die jong konstabel van Hoeko wat onlangs in Delft, Kaapstad voor haar huis doodgeskiet is, is die afgelope naweek uit 'n stampvol kerk begrawe.
“Vriendin, jy los ons sonder woorde. Jy het gesterf presies een maand voor jou verjaarsdag. Mielz, ek is so hartseer oor jou.”
So het Erin Grispe, boesemvriendin van Arendse, in haar huldeblyk verlede Saterdag tydens die begrafnisdiens voor honderde roubeklaers gesê.
Kapt. Reynoldt Gelandt, stasiebevelvoerder van die Table View Hawe-polisiestasie, en ook ’n Ladismitter, het Arendse as ’n getroue, trotse geregsdienaar beskou.
"Nederigheid, toewyding, aanvaarding van gesagstrukture was eie aan Shamiela. Dit kan ek sonder vrees vir teenspraak sê. Konst. Arendse het begin praat van ’n oorplasing Ladismith toe. Ek het dan spottenderwys aan haar genoem dat ek dit nie sal goedkeur nie, want watter bevelvoerder wil van sy bestes afstaan. Dog het ek begrip vir haar gehad, sy wou by haar kinders en moeder wees. Shamiela moes huis toe kom, maar nooit onder hierdie omstandighede nie," het hy tydens die diens gesê.
Hy het ook haar ma, Sorita, bedank vir die feit dat haar dogter van die SAPD-familie kon deel wees.
"U kind was ’n waardige lid van die familie in blou. God sal u vertroos."
Kapt. Reynoldt Gelandt, stasiebevelvoerder van die Table View Harbour-polisiestasie, lewer 'n roerende huldeblyk tydens die begrafnisdiens. Foto's: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'