KANNALAND NUUS - Dehandrè Januarie (21) van Ladismith het verlede week die Nedbank-atletiekspan by die SA atletiekbyeenkoms in Potchefstroom verteenwoordig.
Januarie het vroeër in Oudtshoorn gekwalifiseer vir die byeenkoms met 'n eerste plek in die 100 m en tweede plek in die 200 m.
By die SA's in Potchefstroom het Dehandrè in die 100 m met 'n tyd van 11,47 sek in die vierde plek klaargemaak. In die 200 m het hy 'n sesde plek behaal met 'n tyd van 24,8 sekondes.
Dehandrè vertel dat hy deur oom, Danie Raubenheimer, gemotiveer was en net aanhou oefen het en in homself begin glo het.
"Toe ek vir die eerste keer die stadion betree was ek oorweldig deur die omvang daarvan en die aantal deelnemers. Bekende gesigte soos Wayde van Niekerk en my held, Caster Semenya, was ewe skielik nie net mense op die televisie nie, maar hier het hulle met my blad geskud en my bemoedig."
Op 'n vraag wat sy toekomsplanne inhou, het Dehandrè gesê dat hy beplan om hard te oefen, die regte dieet te volg en om gemotiveerd te bly.
Onlangs het nog 'n atleet van Ladismith, Dehandrè Meintjies, aan die SA Primere-skoleatletiekbyeenkoms in Pietermaritzburg deelgeneem, maar is gediskwalifiseer omdat hy eenkeer voor die skoot sou klap, weggespring het.
Die bekende atleet, Wayde van Niekerk saam met Dehandrè Januarie. Foto: Verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’