OUDTSHOORN NUUS - 'n Aansoek om appèl van 'n man van Oudtshoorn wat aan diefstal van koperkabels en die beskadiging van belangrike infrastruktuur van die munisipaliteit skuldig bevind en gevonnis is, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
David Darries is, volgens sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, van mening dat die landdros fouteer het met sy skuldigbevinding sowel as sy vonnis van agt jaar tronkstraf.
Die staat het volgens hom nie bewyse dat dit hy was wat die kabels gesteel het nie. Hy voer verder ook aan dat die staat se getuies verskil met die lengte van die kabels wat in sy besit gevind is.
Voorts voer hy aan dat die hof sy vorige vonnisse oorbeklemtoon het en dat 'n ander hof 'n ander bevinding kan maak en ook 'n mindere vonnis kan oplê.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die aansoek teengestaan omdat daar wel genoegsame bewyse voor die hof gebring is. Darries is aan 'n foto van hom uitgeken en die kabels is in sy besit gevind. Volgens hom is die lengte van die kabels wat in sy besit gevind is nie relevant nie.
Streeklanddros Ntisoki Moni, het dit aan Darries gestel dat hy nie 'n vreemdeling in die hof is nie en tot 30 jaar tronkstraf gevonnis kan word vir die twee misdrywe waaraan hy skuldig bevind is.
"Dit wys hoe ernstige die misdrywe is en in plaas van 30 jaar het u afslag van 22 jaar gekry."
'n Duidelik omgekrapte landdros Ntsoki Moni, het die saak tot 5 Mei uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'