OUDTSHOORN NUUS - Ses motorfietsgeesdriftiges op drie veteraanmotorfietse met syspanne het Woensdag in Oudtshoorn aangedoen as deel van hulle toer tussen Kaapstad en Durban.
Die ses mense is deel van Cape Sidecar Adventures, 'n onderneming in die Kaap wat toeriste op toere rondom Kaapstad neem. Volgens Tim Clark, eienaar van die onderneming, het hy etlike jare in China gewerk waar hy 'n CJ750 oudmilitêre motorfiets as vervoermiddel aangeskaf het.
Volgens hom is die motorfietse gedurende die sestiger- en sewentigerjare deur die Chinese-weermag gebruik. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy 'n aantal van die motorfietse saamgebring.
"Ek het aanvanklik die motorfietse ingevoer om te verkoop, maar onderhoud en dienste was 'n praktiese probleem. Ek het toe besluit om hulle vir toere aan te wend."
Die maatskappy het tans 31 van die motorfietse en hulle beplan om langer toere vanaf Kaapstad tot sover as Port Elizabeth aan te bied.
Hulle is hierdie week na Durban onderweg waar hulle die jaarlikse toerisme- indaba bywoon om hulle onderneming bekend te stel.
Volgens Clark se seun, Scott, kan die motorfietse nie veel vinniger as 70 km/h ry nie, en het hulle dus 'n hele aantal dae vir die rit ingeruim. Nadat hulle Woensdag uit Oudtshoorn vertrek het, is hulle via Uniondale en die Prince Alfredpas na Knysna.
Hulle beplan om Saterdag in Durban aan te kom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'