DE RUST NUUS - 'n Tragedie het Donderdag-aand, 3 November, die plaas Van Wykskraal in die De Rust-omgewing getref.
Adriaan Gelant (15) en sy suster Ronel Adoons (11) het saam in die plaaspad gestap toe Gelant deur weerlig doodgeslaan is.
Hulle was op pad terug na hul ouerhuis nadat hulle hul ouma weggebring het.
Ronel, het dadelik na die voorval na haar ouerhuis gehardloop om hulp te gaan soek.
Adriaan Adoons, vader van Gelant en Ronel, beskryf sy seun as 'n soet kind, wat nooit teëgepraat het nie, altyd 'n staatmaker was, nooit gejok het of ompaadjies geloop het nie.
"Hy het sulke mooi maniere gehad, almal altyd eerste gegroet."
Volgens Adoons wou sy seun, soos hy, ook op die plaas gewerk het, "Hy was lief vir die plaas en het altyd gesê: 'pa moet my ook leer, ek wil saam met pa werk."
Kleriena Adoons, moeder van Gelant beskryf haar seun as 'n ware engel.
Volgens 'n berig op Facebook deur Leon Campher, word Ronel as 'n brawe heldin beskryf wat kopgehou het ten spyte van haar eie beserings, en hulp gaan soek het vir haar broer. Campher vertel ook dat daar 'n kranslegging op 8 November vir Gelant op Stolsvlakte was.
Ronel het 'n paar dae in die Oudtshoorn-hospitaal deurgebring en sterk nou by die huis aan.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'