OUDTSHOORN NUUS - Jong visuele kunstenaars van Oudtshoorn is vanjaar die gesig van Absa se bemarkingsveldtog by die KKNK.
Dié bank het vandeesweek hul nuwe bemarkingsveldtog lewe gegee met die installering van die groot buitelug-reklamebord teen die muur van die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek in Oudtshoorn.
"Absa stel tydens die KKNK hulle Laat Jou Kuns Wen-mentorskapprogram bekend. Die eerste drie deelnemers aan dié program - Colin Meyer, Earlyn Cloud en Zietske Saaiman – is Oudtshoorniete," vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Volgens Theart is die doel van die projek om die ontwikkeling van jong, opkomende talent 'n hupstoot te gee. Hulle mentor is Madeleine Miles, Oudtshoorn-kunstenaar, installasie-ontwerper en kreatiewe konsultant.
Miles sê dit is 'n wonderlike geleentheid wat Absa oor die volgende jaar aan dié drie kunstenaars bied.
"Sulke geleenthede kom nie aldag oor 'n mens se pad nie. Ons gaan hul grense verskuif en hulle blootstel aan nuwe vaardighede en tegnieke," vertel sy. Vir haar is dit veral belangrik om te fokus op kreatiewe en kritiese denke, hoe om met nuwe konsepte vorendag te kom en probleme op te los.
Die kunstenaars gaan ook geleer word hoe om 'n begroting te bestuur, hoe om hul eie finansies te hanteer en wins te maak.
Miles sê die onlangse reklameveldtog vir die projek was 'n groot hoogtepunt vir die jong kunstenaars. "Absa het ons vir twee dae na Johannesburg gevlieg waar ons in 'n studio foto's en videos vir die veldtog geneem het.
"Dit was die eerste keer dat van die kunstenaars Johannesburg besoek het en gevlieg het. Dit was fassinerend om die proses deur hul oë te ervaar."
Die KKNK word van Donderdag 21 Maart tot Woensdag 27 Maart vir die 25ste keer op Oudtshoorn aangebied.
Die volledige feesprogram is hier beskikbaar en kaartjies vir produksies is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 of verblyf@kknk.co.za gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'