OUDTSHOORN NUUS - 'n 18-jarige man het die week in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van moord verskyn na hy Jendrick Arends (22) Sondagnag met 'n mes doodgesteek het.
Volgens Arends se vriendin, Rochelle Botha, was hulle Saterdagaand by 'n dans gewees.
"Ons was 'n groepie vriende wat saamgegaan het. Ek en Jendrick bly saam by my ouerhuis. Ons was op pad terug huis toe en die man wat Jendrick gesteek het, het agter ons aangeloop."
Volgens haar is die motief agter die moord nog onduidelik.
"Ons het by die huis aangekom en Ricardo Samboer het woorde gehad met Jendrick. Hulle het egter nie baklei nie. Niemand het geskree nie en hulle het ook nie aan mekaar geslaan nie. Dit het gelyk of hulle net met mekaar praat toe stamp Ricardo vir Jendrick. Een van ons vriende het toe gesien Jendrick bloei en agtergekom hy is eintlik in die skouer gesteek. Ons het nie eens geweet Ricardo het 'n mes gehad nie."
Volgens Botha het die verdagte gevlug en die mes in 'n toilet afgespoel.
Botha sê hulle het Jendrick hospitaal toe geneem en hy is na behandeling ontslaan.
"Die dokter het steke ingesit en Jendrick het gesê hy voel reg hy wil huis toe gaan. Ek het heeltyd by hom in die kamer gesit. Hy het nog vir my gevra of ek nie dalk bietjie buite wil gaan sit nie, want ek sit al heeldag by hom. Ek het opgestaan om te gaan was sodat ons hom kan terugneem hospitaal toe. Hy het erg begin kla van 'n pyn. Hy het gesê dit voel soos 'n wind wat hom druk."
Jendrick Arends is met 'n Okapi-mes, soortgelyk aan die een op die foto, gesteek.
Botha sê sy het deurentyd met Arends gepraat en hom probeer kalmeer.
"Hy het vir my gesê hy dink hy gaan dood. Ek het nog vir hom gesê hy gaan niks oorkom nie hy moet net rustig raak. Hy is 'n rukkie later in my arms oorlede."
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê Samboer is Sondag reeds op aanklag van moord in hegtenis geneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'