LADISMITH NUUS - 'n Jong ma is Sondag op die toneel van 'n botsing tussen Zoar en Ladismith dood.
Natasha Johannes (28) was saam met haar man Aniel, en hulle vyfjarige seun vanaf Oudtshoorn na Ladismith onderweg toe hulle Toyota Yaris deur 'n aankomende VW Polo getref is.
Die botsing het skaars 5 km van die egpaar se huis gebeur. Hulle is 'n maand gelede getroud.
Natasha se ma, Robaya Visagie, het Maandag gesê sy kan steeds nie die feit dat haar dogter weg is, verwerk nie. "Mense het my hier kom vertel dat Aniel en Natasha in 'n ongeluk was. Ek kon dit nie glo nie. Die polisie het dit later aan my bevestig. Ek kon nie myself by die hospitaal bedwing nie."
Die botsing het op die R62 tussen Ladismith en Zoar plaasgevind toe twee VW Polos na bewering resies gejaag het. Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is albei bestuurders en hul passasiers na die Alan Blyth-hospitaal in Ladismith geneem, waar hulle mediese behandeling ontvang het.
"Na bewering het twee Volkswagen Polos teen 'n hoë spoed in die rigting van Zoar gejaag. 'n Motoris Alvin September, wat na Oudtshoorn onderweg was, het eerste op die toneel afgekom en het onmiddellik die ongeluk by die Ladismith-polisiestasie gaan aanmeld."
Pojie het bevestig dat 'n klag van strafbare manslag ondersoek word. 'n Gedeelte van die R62 was Sondag 'n geruime tyd gesluit en motoriste moes van 'n ompad deur die Hoeko-vallei gebruik maak.
Die VW Polo wat vermoedelik in 'n resies met 'n ander Polo betrokke was toe die botsing plaasgevind het.
Die botsingstoneel waar paramedici aandag aan een van die beseerdes gee.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'