OUDTSHOORN NUUS - Uitspraak is in die Kaapse hooggeregshof voorbehou in die appèlaansoek van 'n voormalige wynhuisbestuurder wat aan bedrog skuldig bevind en effektief tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Johan Brits (55), voorheen bestuurder van Kango Wyne en Kango Koöperasie in Oudtshoorn is in 2015 skuldig bevind aan 23 aanklagte van bedrog en twee van die oortreding van die Wet op Drankprodukte en is in die Oudtshoorn-streekhof tot nege jaar en nege maande gevangenisstraf gevonnis.
Hiervan is twee van die agt jaar vir bedrog opgeskort terwyl 'n verdere jaar en nege maande gelyktydig met die onopgeskorte vonnis vir bedrog uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van ses jaar.
Brits het 'n vreemde produk, bekend as "Ale", met wyn gemeng en dit onder die ou etikette bemark. Hy het ook seëls, wat drie keer deur 'n beampte van die departement landbou aan wyntenks aangebring is, gebreek.
Sy hersieningsaansoeke in die hooggeregshof, sowel as in die appèlhof om teen die weiering van ontslag te mag appelleer, is van die hand gewys.
Streeklanddros Neels Nortjé het met vonnisoplegging gesê dat Brits nie aan 'n eenmalige misdaad skuldig bevind is nie.
Hy het ook sy eie drankwinkel bedryf sonder die wete van die direksie van Kango Wyne en wat tot sy afdanking gelei het.
Die streekhof het na die vonnisoplegging 'n aansoek om verlof om teen die skuldigbevinding te appelleer van die hand gewys, maar wel verlof om teen die vonnis te appelleer. Borgtog van R20 000 is toegestaan hangende die uitslag van die aansoek.
Tydens 'n virtuele sitting van die hooggeregshof op 10 November het regters Baartman en Wille die betrokke partye meegedeel dat hulle nou die volle hofrekord kon deurgaan en binnekort uitspraak sal lewer. Adv. Louis van Niekerk van die kantoor van die departement van openbare vervolging is die aanklaer terwyl adv. Marthinus Barnard namens Brits optree.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'