OUDTSHOORN NUUS - Kyla Visagie, gr.12-leerder van Hoërskool Oudtshoorn, is verlede week as die algehele hoërskoolwenner by die jaarlikse Kuns- en Fotografieweek aangewys.
Alisha Muller en Anlizé Vermeulen is nog twee matriekleerders van dié skool wat merietepryse vir hul kunswerke ontvang het.
Die uitstalling van die Jeugkuns- en Fotoweek is verlede Woensdagaand deur menige belangstellendes by Hoërskool Oudtshoorn bygewoon.
Enicia Coerecius is gekroon as die wenner in die fotografie-afdeling met Nerine van der Merwe (Pikwasa-kunsskool) wat die algehele wenner in die laerskool-kategorie vir kunswerke was. In die plaveisel-kunskompetisie het Evandre Scholt, Colleen Beukes en Jillian Damons met die louere weggestap.
Volgens Johan Coetzer, onderwyser verbonde aan dié skool (kunsdepartement), het sowat 200 leerders vanjaar ingeskryf. Die deelnemers het leerders van plaaslike skole soos Laerskool Wesbank, Colridge Primêr, Laerskool Laurus, Little Bo Peep Preprimêr, Langenhoven Gimnasium, Hoërskool Oudtshoorn, Eljada-Kairos Skool, Pikwasa en Oudtshoorn Vaardigheidskool ingesluit. Gerrit Rudolph, prinsipaal van Hoërskool Oudtshoorn, het in sy toespraak Coetzer bedank vir sy waardevolle kennis van kuns wat hy oordra aan dié skool se kunsleerders. Hy het ook weer die visie van Hoërskool Oudtshoorn benadruk - om die visuele kunste in die Klein-Karoo en omliggende streke uit te brei en te bevorder. Die bekende fotograaf op Oudtshoorn, Hans van der Veen, was een van beoordelaars.
Gr. 11- en 12-leerders van Hoërskool Oudtshoorn wat vanjaar ingeskryf het, is van links, Anilizè Vermeulen, Lin-Marie Raal, Kyla Visagie (algehele wenner), Gerrit Rudolph (prinsipaal), Johan Coetzer en Sarah Jordaan. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'