OUDTSHOORN NUUS - "Die aanplant van bome kan vir 'n groen laan sorg wat in die toekoms ook meer toeriste na die gebied sal lok en vandag is 'n saadjie gesaai wat so 'n droom 'n werklikheid kan maak."
So het Morné Pietersen, stasiebestuurder van EDENfm, verlede Donderdag tydens die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) se aanplanting van 15 bome langs Dassieweg in Bridgton, gesê.
Dit is 'n verdere uitbreiding van die forum se skoonmaakprojek om 'n skoner en groener omgewing te skep.
Die 15 bome, wat deur Swans Kwekery geskenk is, is by die kantore van die departement binnelandse sake en die volstruisslagpale geplant.
Die forum het twee maande gelede begin met 'n skoonmaakprojek, in samewerking met Cape Karoo International (CKI), die wêreld se grootste produsent van volstruisleer, deur weekliks die strook langs Dassieweg skoon te maak.
Hulle doen dit met die hulp van 'n groep jongmense wat elke Dinsdag en Donderdag papiere, plastieksakke en ander rommel optel wat dan deur die plaaslike munisipaliteit verwyder word.
Phillip Seroux, projekbestuurder van die forum, het 'n beroep op inwoners van die omgewing gedoen om ook eienaarskap van die boomplantprojek te neem en te help toesien dat booswigte nie die bome uittrek of breek nie.
Du Toit Kruger, looierybestuurder van CKI, het in sy toespraak die forum geloof vir wat hulle in die gemeenskap doen.
"Ons is baie trots om deel te wees van wat die forum doen en ondersteun die projekte wat aangepak word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'