OUDTSHOORN NUUS - Jan Scannell, beter bekend as Jan Braai en sy vriend Nicolaas Alberts, verkoopsdirekteur van Ninety One, het verlede week 69 fietse aan leerders van Hoërskool Calitzdorp geskenk.
Volgens 'n verklaring van Gillian Gernetzky, het Scannell en Alberts in 2015 koppe bymekaar sit oor hoe om geld in te samel om leerders te help wat ver skool toe moet stap.
Dié twee kon daarin slaag om teen einde 2022 vir al die leerders in die skool fietse te gee, wat beteken dat slegs die nuwe leerders die jaar fietse ontvang het.
Volgens Gernetzky het die persentasie leerders wat die skool verlaat van 7,5% na 0% gedaal te danke aan die projek.
OneSight Essilor Luxotica Foundation is ook nou deel van die projek en sal aan drie skole van Calitzdorp, Gamka-Oos, Excelsior Primêr en Hoërskool Calitzdorp se leerders gratis oogtoetse verskaf.
Opleiding in finansiële beplanning en sessie oor geslagsgebaseerde geweld sal ook aan leerders en ouers van elke skool beskikbaar gestel word.
Namene Solar het ook aan Gamka-Oos, Excelsior Primêr en Hoërskool Calitzdorp meer as 1 300 pico LED-ligte geskenk sodat leerders beligting het om by te leer en tuiswerk te doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’