'n Bewys hiervan is die eer wat die unieke Jamstreet plaas te beurt geval het toe hulle as een van die 50 top bestemmings in Suid-Afrika aangewys is in die Julie uitgawe van MANGO se reistydskrif.
Die eienaars van Jamstreet, Danie du Plessis en Wim Rheeder, het die plaas sowat vyf kilometer buite Oudtshoorn, ses jaar gelede gekoop met die doel om 'n bestemming in die Klein-Karoo te vestig waar hulle, hul kreatiewe visie kan uitleef en deel.
Die plaas was al 5 keer op TV waaronder, Pasella, Kwêla en Ontbytsake en artikels het al in meer as 17 tydskrifte verskyn, waaronder De Kat, Elle Decoration, Vrouekeur, Ray, South, Garden Route Living, Vital Magazine en Country Living.
Die vorige eienaars het 'n melkery bedryf en die melkstal is omskep in 'n unieke uitstalruimte en die galery heet MOOOI waar 'n uiteenlopende versameling beelde en skilderye uitgestal word. Die plaas spog ook met 'n amfi-teater met sitplek vir 1 200 mense asook 'n groter area waar die Britse Popgroep Smokie verlede jaar tydens hul wêreldtoer opgetree het. Tydens die konsert was 3 500 konsertgangers teenwoordig. Die Swartberge dien as 'n wonderlike agtergrond vir optredes in die amfi.
Gereelde besoekers aan Jamstreet kan getuig van die voortdurende kreatiewe toevoegsels en uitbreidings wat hoofsaaklik uit herwinde materiaal opgerig word. Oor hulle plek as een van die top 50 bestemmings het die Wim en Danie gesê: "Ons is baie trots op die onderskeiding en dat ons in dieselfde geselskap as ikoniese bestemmings soos die Uilhuis in Nieu-Bethesda en Babylonstoren in Franschhoek gereken word."
Jamstreet het die eerste bottel labirint in die wêreld gehad maar die moes ongelukkig plek maak vir 'n area wat geoormerk is vir groter konserte en uitstallings. Die bottel labirint word egter spoedig vervang met 'n labirint bestaande uit spekbome en ou motorbande wat ook 'n eerste sal wees.
Die installasie van Strijdom van der Merwe - Reaching for the Sky - is 'n groot aantrekkingskrag en met die volgende KKNK word reuse kuns installasies beplan.
Die plaas is oop vir besoekers op Vrydae en Saterdae, waartydens ligte etes en wyne uit die streek bedien word.
Ander Karoo-bestemmings wat onder Mango se top 50 tel is die bekende Swartbergpas, Prins Albert, Roete 62, Vallei van Verlatenheid by Graaff Reinet, die Uilhuis op Nieu-Bethesda en die jaarlikse Afrikaburn geleentheid in die Tankwa-Karoo.

Die eienaars van Jamstreet, Wim Rheeder en Danie du Plessis is in hul noppies met Mango se reistydskrif wat hulle plaas identifiseer as een van die 50 moet-sien-plekke in die land en een van agt in die Karoo.