Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Motor wat Sondagaand vir die polisie weggejaag het, het tot stilstand gekom nadat dit deur 'n heining gebars het. Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het die rooi Golf vroeër die aand in Bridgton oor 'n stopstraat by die kruising van Poplar- en Swarthoutstraat in Bridgton gejaag.
Polisielede wat op patrollie was het die Golf opgemerk en dit agternagesit. Michaels sê die polisie het probeer om die Golf af te trek, maar die bestuurder het geweier om stil te hou en weggejaag. "Hulle het die Golf met sirenes agternagesit,"
Volgens inligting van sekerheidswagte wat in die omgewing van Jonesstraat diens gedoen het, het die Golf verskeie draaie gery in 'n poging om die polisie af te skud. Die motor het met Jonesstraat in die rigting van Rademeyerstraat gevlug en by die kruising beheer verloor en deur 'n veiligheidsheining gebars. Die polisievoertuig was kort daarna ook op die toneel.
Op videomateriaal van 'n sekerheidsfirma jaag die Golf oor die stopstraat in Jonesstraat sekondes nadat 'n ander voertuig inRademeyerstraat by die kruising verbyry.
Twee insittendes van die Golf is per ambulans vir waarneming hospitaal toe geneem. Die Golf 5 het ernstige skade tydens die botsing opgedoen. Michaels het bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Kyk 'n video hieronder:
Die kamera wat die Golf afgeneem het, het 'n aantal maande gelede nog 'n botsing by dieselfde kruising vasgevang toe 'n motor wat met Rademeyerstraat onderweg was, voor 'n aankomende motor ingedraai het en dit getref is.
Verskeie voorvalle in die dorp is al deur die aantal kameras wat by besighede en sekere toegangsroetes opgestel is, vasgevang.
Die Golf nadat dit deur die heining gebars het.
Beeldmateriaal word dikwels gebruik om die oorsaak van ongelukke te bepaal en volgens 'n versekeringsassessor het beeldmateriaal al dikwels daartoe bygedra om te bepaal of eise wat ingestel is, regmatig is al dan nie.
Die eienaar van een van die sekerheidsmaatskappye wat van die kameras beman het by 'n vorige geleentheid gesê wetsoortreders besef dikwels nie hoeveel kameras daar in die dorp is nie. 'n Winkeldief is die afgelope naweek juis op een van die kameras vasgevang nadat hy kledingstukke by 'n winkel gesteel het.
'n Skermgreep van 'n nabygeleë kamera wat die botsingstoneel op video vasgelê het. Video verskaf.
Vorige artikel: Twee beseer by kruising
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'