OUDTSHOORN NUUS - ‘n Groot groep ontevrede inwoners van Volmoed het vanoggend die pad na Volmoed, vanaf Mosselbaai se rigting, met brandende buitebande gesluit omdat daar volgens hulle na meer as 20 jaar se wag, nog geen huise op Volmoed gebou is nie.
Volgens Carol Langhtrey, lid van Volmoed se behuisingskomitee, is daar al vele versoeke na die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, maar sonder sukses.
“Ons kan nie verstaan hoekom daar nie in Volmoed se behuisingsnood voorsien kan word nie. Hier is soveel groot oop vlaktes op Volmoed beskikbaar wat die munisipaliteit kan koop. Elke keer word daar eenvoudig vir ons gesê dat daar behuisingsprojekte in die pyplyn is, maar na jare se gewag, het niks nog gerealiseer nie."
Nog iets wat volgens haar Volmoed se inwoners warm onder kraag het, is die feit dat mense van ander provinsies na willekeur grond op Volmoed kom koop terwyl die inwoners wat al donkiejare op Volmoed woon sonder huise sit.
Dié vreedsame protesaksie het onder die wakende oog van die Oudtshoorn-polisie en die Oudtshoorn-brandweerdienste plaasgevind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'