OUDTSHOORN NUUS - As alles volgens plan verloop, gaan Baron van Reedestraat Saterdag dreun met meer as 1 000 voete wat die Jerusalema-ritme gaan uittrap. Dit is die inisiatief van Ingrid Noble om die Jerusalema-uitdaging in Oudtshoorn te hou.
Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, het sy volle gewig agter die geleentheid gegooi en ook die versekering gegee dat die munisipaliteit die projek ten volle ondersteun.
Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, het Dinsdag bevestig dat die onderskeie afdelings reeds in gesprek is met Noble om alles in plek te kry vir die geleentheid.
Die Jerusalema-uitdaging het wêreldwyd vlamgevat en die Suid-Afrikaanse musikant, Master KG, se naam is oornag internasionaal bekend.
Selfs president Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners tydens sy onlangse toespraak oor die verslapping van Covid-19-regulasies, aangemoedig om deel te neem aan die Jerusalema-geleenthede.
Die gedeelte van Baron van Reedestraat tussen Voortrekkerweg en St. Johnstraat sal Saterdagmiddag gesluit word.
Die Jerusalema-uitdaging begin om 13:30. Inwoners wat deelneem word gevra om wit hemde en jeans aan te trek.
Verskeie oefensessies is reeds gehou en sommige instansies, soos die Rotariër-aftreeoord in Kerkstraat, het sommer hulle eie oefening gehou.
Lede van Pro Academy Dancers, het van die oefensessie gelei.Vir enige inligting kontak Ingrid Noble by 071 339 6993.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'