Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van drie informele nedersettings op Oudtshoorn is raadop met die omstandighede waarin hulle woon.
Volgens Buseletso Nana, 'n inwoner van GG-kamp, bestaan die plakkerskampe, GG-kamp en die Kanaal, ongeveer 25 jaar en die nedersetting naby Black Joint, Bongolethu ook al etlike jare.
"Ons woon al 25 jaar sonder die basiese dienste soos elektrisiteit, toilette en lopende water, maar omdat ons uit die oog is doen die munisipaliteit nie iets om ons te help nie."
Nana sê hulle is al heeltemal raadop met die omstandighede waarin hulle leef.
Volgens hom het die munisipaliteit Sondag na die storm wel boumateriaal aan mense uitgedeel.
"Die probleem is baie van die mense wat dit ontvang het is mense wat salarisse kry en hulle het dit nie nodig nie. Hulle verkoop dit dan aan mense wat amper niks geld het nie, maar dit regtig nodig het. Dit is goed wat hulle verniet van die munisipaliteit kry, maar aan armer mense as hulle verkoop.
"Ons wil graag hê die munisipaliteit moet ook aan ons mense, wat jare al in plakkerskampe vergete is, aandag gee. Ons probeer ook om dinge op die regte manier te doen want om gewelddadig te raak en goed te brand is ook nie 'n opsie nie."
Die inwoners van die drie informele nedersettings. Buseletso Nana staan derde links. Foto: Liezl van Niekerk
Volgens hom het hulle al as groep en individuele inwoners menigte vergaderings met die munisipaliteit gehad, maar val hul noodkrete op dowe ore.
Nana sê hulle gaan die week weer probeer om 'n vergadering met die munisipale amptenare te hê.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd geen antwoord ontvang nie.
Lees 'n verwantende stories: Raadsvergadering ontaard in chaos
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'