Dit was die woorde van Tyson Harris, een van die sprekers by 'n vergadering van inwoners wat in opstand is oor die munisipale bestuur van die dorp.
Vier burgerregte organisasies nl. Afriforum, Oudtshoorn Burgerlike Beweging (OBB), Rose Valley komitee en Oudtshoorn Belastingbetalersvereniging (ORPA) het hierdie week twee vergaderings belê waartydens inwoners hulle bekommernisse uitgespreek het oor die optrede van die burgemeester, die munisipale bestuurder en sommige raadslede.
In sy spreekbeurt het Harris, voorsitter van die Rose Valley komitee, verwys na die ry leë stoele voor in die saal tydens Dinsdagaand se vergadering wat gereserveer was vir munisipale amptenare en die afwesiges met spoke vergelyk. Sy opmerking is deur George Kersop van Afriforum ondersteun wat bevestig het dat alle raadslede, elke senior amptenaar sowel as die burgemeester uitgenooi was na die vergadering maar nie reageer het nie. Hulle was ook genooi om gisteraand se vergadering by te woon, maar teen saktyd gisteroggend kon nog nie vasgestel word of verteenwoordigers van die munisipaliteit aangedui het dat hulle daar sou wees nie.
In reaksie op 'n navraag het Francois Human, direkteur van korporatiewe dienste gesê dat munisipale amptenare se uiters besige skedule hulle verhinder het om Dinsdagaand se vergadering by te woon.
Kersop, Harris, Lizanne Pelham van ORPA en Pietie Mooney van die OBB het almal dieselfde boodskap oorgedra dat inwoners betrokke moet raak by burgerregte organisasies en sodoende wal gooi teen die beweerde korrupsie, wanadministrasie en ontkenning van demokrasie wat deur die munispale bestuur veroorsaak word.
- Bekommernis is uitgespreek oor 'n wye reeks onderwerpe waarvan die volgende voorbeelde is;
- Die ontwikkelingsplan wat klaarblyklik uittreksels uit vorige planne bevat asook dele wat oënskynlik net so uit die ontwikkelingsplan van Stellenbosch gekopieer is.
- Die verdwyning van R120 miljoen van belastingbetalersgeld wat aangewend moes word vir projekte in die dorp
- Die aanstelling van personeel sonder die nodige begroting en prosesse.
- Die buitensporige verhoging in elektriese tariewe.
- Die aanstelling van 'n munispale bestuurder wat volgens die hooggeregshof nie gekwalifiseer is vir die pos nie
- Die ondersoek van die spesiale ondersoek eenheid (SOE) na korrupsie binne die munisipaliteit asook beweerde korrupsie van 'n prokureur wat soms namens amptenare optree.
- Die burgemeester wat gesien word as 'n diktator en weier om demokratiese prosesse te erken en raadsbesluite blykbaar volgens sy eie besluite uitvoer of weier om uit te voer.
- Beloftes aan Rose Valley se mense ten opsigte van dienste terwyl daar geen geld beskikbaar is nie en die informele nedersetting nog nooit hersoneer is as 'n woongebied nie.
Kersop het daarop gewys dat die munisipaliteit oor 'n hele aantal uitstekende amptenare en werknemers beskik, maar dat hulle goeie werk oorskadu word deur die swak bestuur van die munisipaliteit. "Daar is mense wat baie goeie werk lewer, maar hoe moet hulle dit regkry as die burgemeester en party senior mense net daar is vir eie gewin en vir politieke agendas."
Tydens die vergadering is petisies onderteken ten opsigte van die hoë kragtariewe asook om druk op die SOE uit te oefen om die bevindinge van die ondersoek na korrupsie in die munisipaliteit bekend te maak.
"Dit het tyd geword dat ons stemme gehoor word en dat ons, as inwoners, self ingryp om die ondergang van hierdie dorp te red." Het Kersop ter afsluiting opgemerk.
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR