OUDTSHOORN NUUS - Inwoners wat rommel en tuinafval by die stortingsterrein buite Oudtshoorn stort is onseker oor die doel van die mense wat by die afdraai na die stortingsterrein diens doen.
Een persoon het genoem dat hy ingery het om rommel te stort, maar met sy terugkeer was daar klippe oor die pad gepak wat hom gedwing het om stil te hou. Hy is toe glo deur die groep mans ingelig dat hulle hom voorgekeer het omdat hy nie met die ingaanslag stilgehou het nie.
Volgens kommentare op sosiale media en 'n oproep wat die Oudtshoorn Courant ontvang het, is inwoners nie bereid om by die ingang stil te hou nie omdat daar groot groepe mense rondhang.
"As daar mense aangestel is om toegang te beheer, moet daar duidelike kennisgewings aangebring word en daar moet geen leeglêers wees nie. Ek gaan mos nie stilhou as daar 'n hele groep mense rondstaan nie. Hoe weet ek wie is veronderstel om daar te wees en wie nie," het die persoon gesê.
Met die Oudtshoorn Courant se besoek aan die stortingsterrein Dinsdagoggend, was daar ses mans wat gesê het hulle is deur die munisipaliteit aangestel om inwoners wat afval gaan stort, by te staan en in te lig waar hulle die afval mag aflaai.
Behalwe vir die ses mans was daar egter ook ongeveer tien ander mense wat by die ingang rondgestaan het.
Een van die mans het verduidelik dat die ses van hulle in drie groepe van twee elk op verskillende plekke moet diens doen. Hulle kon egter nie verduidelik hoekom al ses by die ingang was nie. Die mense wat by die ingang rondgestaan het, het die plek verlaat toe die koerant foto's van die werknemers wou neem.
In reaksie op 'n navraag aan die munisipaliteit, het Ntobeko Mangqwengqwe, die woordvoerder, gesê die ses informele aanstellings was 'n poging om toegangsbeheer tot die stortingsterren te monitor nadat klagtes van die publiek ontvang is dat hulle onveilig voel as hulle die terrein besoek. Hy het gesê die huidige klagtes sal ondersoek word.
Die groep mans wat toegangsbeheer by die stortingsterrein moet toepas kla dat inwoners nie stilhou sodat hulle kan bevestig watter tipe rommel afgelaai word nie. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'