OUDDTSHOORN NUUS - Inwoners van Colridge View dreig om stappe te neem indien die munisipaliteit nie ingryp en die ontwikkeling van Hopeville, die informele nedersetting tussen die gholfbaan en begraafplaas, stuit nie.
Stemme het opnuut opgegaan nadat twee inwoners verlede Vrydag moes ingryp toe drie mense 'n bejaarde man probeer beroof het.
Die insident het plaasgevind toe Granwell Strydom en Pieter Safers, gaan stap het, en gesien het hoe twee mans en 'n vrou dié ryloper probeer beroof het.
"Die persone was besig om die ryloper se broeksakke en rugsak te deursoek toe ons ingetree het. Toe die rowers ons gewaar het hulle dadelik die man gelos en by die Hopeville-woonbuurt ingedraai. Die voorval het direk langs die besige N12 roete tussen Oudtshoorn en De Rust plaasgevind. Hopeville het verlede jaar ontstaan toe ongeveer 18 opslaanhuise oor 'n naweek verskyn het. Op daardie stadium het Zyna Mduma, voorsitter van die Backyard Dwellers of Hope aangedui dat slegs die 18 strukture tydelik opgeslaan word totdat hulle ander heenkome gebied word. Intussen is ongeveer 50 strukture opgerig en die afgelope naweek was mense besig met nog opslaanhutte.
Die uitbreiding van dié nedersetting bekommer inwoners van Colridge View.
"Ons het regtig simpatie met Hopeville se mense, maar dinge ruk nou hand uit. Hier is baie oumense en jong kinders wat in die buurt woon en daar word nou vir hul veiligheid gevrees omdat inbrake en poging tot inbrake sedert die Hopeville-buurt se ontstaan meteens toegeneem het."
Die inwoners van Vyfdelaan eis nou ook verminderde belastingstariewe van die Oudtshoorn-munisipaliteit. "Dis mos verregaande dat ek maandeliks deur my nek moet betaal vir belasting terwyl my eiendom se waarde as gevolg van die Hopeville-buurt nou drasties verlaag het..
Die nuutste hutte is enkele meter van die grafte in die begraafplaas en begrafnisgangers het Sondag gekla dat leë grafte nou as toilette gebruik word.
Mduma, het in reaksie op dié klagtes gesê sy dra nie kennis van rowers wat in Hopeville woon nie.
"Hier loop gedurig mense deur ons terrein wat nie eers hier woon nie. Ek kan nie vir hul optredes veranwoordelik gehou word nie".
Intussen het die munisipaliteit en die burgemeester, Chris Macpherson aangedui dat verskeie aspekte hierdie week bespreek word en dat Hopeville een van die kwessies is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'