Phillip Seroux, voorsitter van die Oudtshoorn christelike jeugforum, het Trapsuutjies, die nuutgestigte omgewingsforum in Oudtshoorn, genader om hulp.
"Ons is 'n klompie inwoners wat elk 'n groentetuin begin het en werk saam met mev Olieslager van maatskaplike dienste. Ons is almal begeester om ons groentetuine te maak werk, en soek gedurig nog saad, kunsmis, kundigheid… eintlik enigiets wat ons beter mense en beter groentetuinverbouers gaan maak," vertel hy.
Susan Botha, wat gemeenskapsbewaring by CapeNature se Oudtshoorkantoor bestuur, het die Trapsuutjiesnetwerk gebruik en 'n oproep gedoen op mense om betrokke te raak by hierdie opleiding.
"Binne 'n halfuur nadat ek 'n nuusflits uitgestuur het, het die eerste verwysings en hulp ingekom," vertel sy. "Die uiteinde is dat ons skenkings ontvang het van Klein Karoo Saad, JW Saad, Wilck Spar en Fruit en Veg – dit is nou buiten kontantbydraes van individuele Trapsuutjies-lede. Ek is so opgewonde oor hierdie forum en sien groot suksesse en samewerking vorentoe," sê sy.
Die kursus is aangebied deur Llewellyn Grootboom van Xhoisani Enterprises - 'n volhoubare projekbestuur-organisasie wat fokus op Maatskaplike Besighede-ontwikkeling (Social Development Enterprises). "My totale kursusinhoud word gebaseer op Bybelse grondbeginsels," sê hy.
Susan Botha het ook aan die opleiding deelgeneem en het bekende "blikkies-les" gedoen, wat die Goddellike opdrag om te heers oor die aarde uitbeeld. Sy het ook vermorsing en herwinning aangeraak, en ek glo dat ook hierdie boodskap goed ontvang is deur die kursusgangers," meen Llewellyn.
Samewerking tussen CapeNature en die department van maatskaplike dienste, wat groentetuinprojekte in gemeenksappe help vestig, word in die vooruitsig gestel.
Susan glo dat sulke gesamentlike projekte in gemeenskappe groot vrugte kan afwerp.

Llewellyn Grootboom verduidelik
die beginsels van groentetuinverbouing.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'