PRINS ALBERT NUUS - Terwyl 'n hewige gesprek onder inwoners van Prins Albert aan die gang is oor vrese dat die vliegveld dalk kan sluit, het 'n vlieënier van British Airways sy stem gevoeg by diegene wat glo 'n vliegveld is onontbeerlik vir die dorp.
Kapt. Richard Schreiber het Maandag van Stellenbosch na Prins Albert in sy Cirrus ZS-SUB gevlieg om die dorp as toeris te besoek.
Schreiber is 'n Boeing 747-vlieënier wat verlede week op een van sy gereelde roetes van Heathrow na Kaapstad gevlieg het.
Hy het 'n huis in Kaapstad en sy Cirrus word by die Stellenbosch-vliegveld gehuisves.
Hy is mal daaroor om Suid-Afrikaanse plattelandse dorpe in sy verlofdae met sy ligte vliegtuig te verken, het hy vertel.
Sy vriendin, Amanda Nolan, 'n BA-lugwaardin, het saam met hom na Prins Albert gevlieg.
Schreiber meen as Prins Albert ernstig is oor sy beeld as toerismebestemming, moet hy dit vliegvriendelik maak.
"Een van Prins Albert se groot aantrekkingskragte is dat dit afgeleë is. Terselfdertyd help 'n vliegveld om die negatiewe aspekte van afgeleënheid te oorkom.
"Daarby verskaf dit onmiddellike toegang tot nooddienste vanuit die res van Suid-Afrika."
Die vliegveld speel ook 'n rol tydens brandbestrydingsaktiwiteite.
"Die vliegveld maak Prins Albert se talle toeriste aantreklikhede beskikbaar vir mense wat nie die hele dag in 'n kar wil sit op pad hierheen nie.
"As hulle eers gesien het wat die dorp alles bied, sal hoorsê die res doen wat belangstelling en belegging betref.
"Ek sou nooit Prins Albert toe gekom het as ek nie kon vlieg nie. My tyd is beperk en Prins Albert se vliegveld is 'n tussenstop op pad na Plettenbergbaai. Mense moet ophou sê vliegtuie is die speelgoed van nét rykes.
"Die meeste ligte vliegtuie kos wat 'n goeie kar kos. 'n Vliegveld wat floreer beteken werkgeleenthede vir plaaslikes – soos brandstofjoggies, meganici, skoonmakers, veiligheidswagte.
"Dié soort infrastruktuur verg ook omtrent geen instandhouding nie.
Terwyl die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, dit ten sterkste ontken dat die munisipaliteit die vliegveld tot niet wil maak, vra inwoners vrae oor die reusedraadheining wat onlangs "skielik" daar opgerig is, tot weerskante van die aanloopbaan. Die vorige toegangspad tot die vliegveld is ook oornag versper.
'n Nuwe toegangspad is inderhaas gemaak sodat 'n inwoner van die dorp, Hans Burger, weer sy vliegtuig in die loods op die vliegveld kon bereik. Burger is 'n vlieënier met veertig jaar vlugervaring.
'n Groot appelkoosboord word by die vliegveld beplan – 'n projek van die nasionale departement landelike ontwikkeling en grondhervorming en die departement landbou se Agri-Parks-afdeling.
Prins Alberters voel hulle is nie in die saak geken nie en dat 'n openbare deelnameproses éérs moes plaasvind, veral oor die draadheining.
Mettler sê so 'n proses sal binnekort gebeur; inwoners sê die koeël is deur die kerk.
Volgens Mettler ís die hele projek, van boord tot droogbaan en wateraanleg, bespreek op 'n GOP-inligtingsvergadering (Geïntegreerde Ontwikkelingsplan).
Terwyl hy herhaaldelik die versekering gee dat die vliegveld bly, lig die wenkbroue oor die moontlike veiligheidskwessies wat die heining meebring.
Burger sê uit die lug kan dit verwarring veroorsaak vir naderende vlieëniers.
ARTIKEL: MARLENE MALAN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'