Die probleem van kinders wat in Oudtshoorn se sakekern rondloop, bedel en slaap is al vir etlike jare 'n probleem en dit het in 2012 vererger. Met geen owerheidsplanne op die tafel nie, en leë beloftes van onder andere die munisipaliteit en department van maatskaplike ontwikkeling wat tydens vergaderings van die straatkinderforum gemaak is, het Famsa tot die redding gekom en die huidige invalsentrum op 15 Julie 2013 op die been gebring.
'n Gebou is by die Scrosoppisentrum in Wolfweg gehuur, ingerig en personeel is aangestel om 'n veilige hawe vir kinders te bied. Maar, sê Badenhorst, Famsa kan nie meer die hele proses sonder enige ondersteuning van ander instellings bedryf nie.
Hy sê dat die invalsentrum baie suksesvol is met die programme wat aangebied word en dat tussen soveel 35 kinders sommige dae daar aanmeld. "Die invalsentrum se hoofdoel is egter nie om kinders net van die straat af te kry en op te pas vir 'n dag nie; die hoofdoel is om die kinders weer in die gemeenskap en hulle gesinne te herintegreer, en dit kan Famsa nie alleen doen nie."
Hy verduidelik dat die ACVV, Gesinsorg en, baie belangrik, die department van maatskaplike ontwikkeling daardie gedeelte van die proses moet behartig, maar dat dit nie gebeur nie. "In die geval van die ACVV en gesinsorg is 'n tekort aan personeel 'n groot probleem en ons het waardering vir dit wat hulle doen met die beperkte personeel, maar dit is tyd dat die munisipaliteit en maatskaplike ontwikkeling verantwoordelikheid neem vir die probleem."
As 'n voorbeeld van sy frustrasie noem hy dat hy reeds weke gelede die department van maatskaplike dienste in kennis gestel het dat die sentrum moontlik gaan sluit, maar dat hulle glad nie op sy dringende boodskap reageer het nie. "Famsa het destyds ingewillig om die sentrum te fasiliteer en te bestuur en in die tyd het ons daarin geslaag om 'n hele aantal kinders terug te kry in skole, maar ons kan dit eenvoudig nie meer alleen doen nie. Die probleem is eenvoudig net te groot. Ons sit met 'n groot dwelmprobleem onder kinders en die owerhede het geen plan op die tafel om dit aan te spreek nie. Ons plak op die oomblik pleisters op wonde wat sweer en die pleister help nie meer nie."
Badenhorst noem dat almal ingespring het om Oudtshoorn se strate tydens die KKNK skoon te maak. Die munisipaliteit het spesiaal 'n bussie gehuur waarmee wetstoepassers kinders opgelaai en by die sentrum afgelaai het. Volgens hom was die plan om regdeur die jaar daarmee voort te gaan. "Sedert die kunstefees het wetstoepassers en die polisie nog nie een enkele kind by ons kom aflaai nie," sê hy.
Uit die gesprek met Badenhorst blyk dit dat daar drie hoofredes is waarom Oudtshoorn se strate binne maande weer vol kinders op straat gaan wees:
- Daar is geen samewerking onder die verskillende departemente en instansies om die probleem holisties te benader en aan te spreek nie.
- Famsa is hoofsaaklik 'n instansie wat berading en gesinsondersteuningsdienste lewer en beskik nie oor statutêre dienste aan gesinne nie.
- Die huidige gebou is vanaf Desember nie meer beskikbaar nie, en kan moontlik nog tydelik tot Maart gebruik word, maar die munisipaliteit het geen infrastruktuur of perseel waarheen die sentrum kan skuif nie.
As 'n laaste poging om die sluiting van die sentrum te voorkom word daar binne die volgende twee weke 'n vergadering tussen Famsa, St Luigi, Scrosoppi en die besigheidskamer belê om die probleem te bespreek. Volgens Badenhorst is dit net die besigheidskamer en die Oudtshoorn Courant wat gereeld by die sentrum betrokke is en ondersteuning verleen.
"Die departement van maatskaplike ontwikkeling voorsien wel die geld, maar dit is tyd dat die departement en die munisipaliteit wakker skrik en verantwoordelikheid aanvaar vir die probleem wat 'n sosiale probleem binne 'n munisipale gebied is. As dit nie gebeur nie gaan die probleem net eskaleer en heeltemal buite beheer raak. Dit sal baie jammer wees as die sentrum sluit, want dit is die een projek waar ons tasbare suksesse kan sien."
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'