OUDTSHOORN NUUS - Gezwil Percy, 'n leesfasiliteerder, het besluit om leerders wat weens die grendelstatus nog nie kan teruggaan skool toe nie te help om skoolfiks te bly deur hulle te help om hul leesvaardighede op te knap.
Percy vertel dat Allison Alexander, 'n gr. 1-leerder van Saturnus Primêr, se ouma hom genader het om haar kleindogter met leeswerk te help.
"Lees is seker een van die belangrikste vaardighede wat 'n kind aanleer.
"Dit is egter so dat nie alle kinders hou van lees nie en om hulle geïnteresseerd te hou is nie so maklik nie. Ek het dus besluit om by haar te gaan sit sodat sy vir my 'n storie wat in haar kop kom kan vertel.
"Ek het toe vir haar 'n inkleurboek geteken en haar storie daarby geskryf."
Volgens Percy is dit vir hom lekker om leerders te help om hul volle potensiaal te bereik.
"Vir my is dit belangrik dat daar genoeg tyd spandeer word om kinders vanaf gr. R tot gr. 7 te leer lees sodat hulle kan leer hoe om te begryp en te verstaan wat hulle hoor en wat hulle sien.
Wanneer 'n kind leer lees, leer die kind om ondermeer basiese simbole en letters te identifiseer, te begryp en te interpreteer."
Vir hom stop dit egter nie net by leesvaardighede nie. Percy het ook besluit om bordspeletjies te skep wat kinders met wiskunde kan help.
"Kinders leer op verskillende maniere en ek geniet dit om maniere te kry wat dit vir elke individuele leerder makliker maak om te leer."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'