KLEIN KAROO NUUS - Die Klein Karoo Black Business Chamber of Commerce (KKBBCCI) op Oudtshoorn, is tydens die AHi Wes-Kaap se onlangse kongres op Velddrif as die Opkomende sakekamer van die jaar aangewys. Dit is die eerste keer dat die prys, vir sakekamers wat twee jaar of jonger is toegeken word.
Die toekenning is Dinsdag aan die KKBBCCI in George oorhandig. Freddie Schroeder, voorsitter van die KKBBCCI het gesê die probleme in Suid-Afrika word groter. Daar is nie vir alle matrikulante werk nie. As nuwe ondernemings nie gevestig word nie, is daar nie hoop vir die land se kinders nie.
Die AHi Wes-Kaap gaan voortaan sterk fokus op die belangrikheid van informele ekonomie. Dit is 'n uitvloeisel van besluite oor die aangeleentheid wat tydens die kongres geneem is.
Dit is deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap bevestig. Hy het aan die George Herald, susterskoerant van die Oudtshoorn Courant gesê die AHi Wes-Kaap groei sterk onder sakekamers wat nie tradisioneel lid van die AHi was nie.
Die informele ekonomie word algemeen beskou as sakeondernemings wat hoofsaaklik in gemeenskappe funksioneer en nie noodwendig as sakeondernemings geregistreer is nie.
Een van die AHi Wes-Kaap se fokusareas is die bou van vennootskappe binne die sakewêreld vir inklusiewe ekonomiese groei. Die fokus op die informele ekonomie gaan oor werkskepping en ekonomiese groei. Volgens hom word die belangrikheid van die informele ekonomie onderskat. Daar word bereken dat een uit elke ses werkers in Suid-Afrika in die informele ekonomie werk en dat sowat drie miljoen mense in Suid-Afrika by die informele ekonomie betrokke is.
Hoe kan die sakekamers betrokke raak?
Die plan is om in elke dorp in die Wes-Kaap se informele sektor 'n gemeenskapsakekamer te vestig. Die formele sakekamers sal bly voortbestaan en met die gemeenskapsakekamers saamwerk in 'n besigheidsforum. "
Ons wil mense bymekaarbring," het Cilliers gesê. Hulle sal nie met mekaar meeding nie en mekaar ondersteun.Cilliers het gesê daar is reeds 46 sakekamers betrokke by die AHi Wes-Kaap. Hy hoop dat dit aanstaande jaar sal vermeerder tot 100.
Voorts kyk die AHI Wes-Kaap na hoe plaaslike sakekamers en landbouverenigings kan saamwerk. In die Wes-Kaap is landbou die grootste ekonomiese rolspeler. "Daar is raakpunte vir samewerking."
Naas landbou, is toerisme die ander groot rolspeler. Wat Cilliers betref behoort toerisme en sakekamers by een toegangspunt in 'n dorp te wees.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'