OUDTSHOORN NUUS - Duisende rande se skade is aangerig na daar gisteraand by Christa's Beauty & Hair Clinic ingebreek is.
Die inbrekers het die kragboks uitgebreek om te verseker dat daar geen kragtoevoer na die gebou is nie en by een van die voorste vensters van die gebou ingekom.
Met die Oudtshoorn Courant se aankoms op die toneel was die polisie reeds besig om vingerafdrukke te neem.
Volgens Christa Bower, eienaar van die besigheid moes die inbrekers heelwat tyd in die gebou spandeer het. "Elke liewe kassie is oopgemaak en uitgegooi. Hulle het op die sondbed gelê. Die micro needling-masjien se punt is afgebreek. 'n Groot klomp kontant is gesteel en hulle het selfs die koffie en beskuit gesteel. Uit die haarsalon het hulle 'n straightener en kontant gesteel en ook kaste oopgemaak en uitgegooi."
Christa sê in die 38 jaar wat sy haar besigheid het, het sy nog nooit so iets teegekom nie.
"Hulle krap in mens se privaatheid. Mens voel so geskend."
Haar dogter, Christel Reid, 'n skoonheidsterapeut by die salon, sê die skade aan die besigheid is onnodig. "Ek wonder hoe hulle sal voel as mens ongenooid in hulle huise instap en hulle goed breek en steel. Ons werk flippen hard vir wat ons het en ander mense kom en breek dit af en steel dit."
Die inbrekers het elke kassie oopgemaak.
Die inbrekers het die kragboks uitgebreek om te verseker dat daar geen kragtoevoer na die gebou is nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'