OUDTSHOORN NUUS - Dit is bederf uit die boonste rakke: 'n bekroonde toneelstuk wat jy in jou eie huis kan geniet.
Die ikoniese eenvroustuk, Die Naaimasjien, deur Rachelle Greeff, is spesiaal vir die KKNK verfilm, en is die eerste vertoning wat kultuurdiere aanlyn kan geniet as deel van die KKNK se program vir 2021 in sy virtuele teater by www.kknk.co.za.
Ná honderde opvoerings dwarsoor die land oor bykans drie jaar, en 'n onvergeetlike speelvak by die Edinburgh-fees in Skotland, kry Die Naaimasjien 'n tweede lewe in jou sitkamer. As jy nog nie die karakter Magdaleen ken nie, moet jy nou jou kaartjies koop.
Sy sit in haar ouetehuiskamer en is besig om elke deeltjie van haar naaimasjien skoon te maak, want Magdaleen het hom verkoop, en die vrou op die foon het gesê sy is drieuur vanmiddag hier om dit op te laai. Met deernis en humor vat Magdaleen kykers terug na 'n tyd van melkaflewerings, moerkoffie, kouse met nate en wit Valiants. En sy herinner ons aan hoe 'n ma, soos 'n baboesjka-poppie, binne-in elkeen van haar kinders staan.
Hennie van Greunen, doen die regie en Sandra Prinsloo speel Magdaleen.
Die klankbaan wat in Magdaleen se herinneringe woon, spog met die stemtalente van onder meer Stian Bam, Joanie Combrink, Deon Lotz, Viljé Maritz en Pedro Kruger.
Carien Loubser, bekroonde vervaardiger en TV-regisseur van reekse soos Die Republiek van Zoid Afrika en Jan, het die toneelstuk op film verewig. Die film word deur die KKNK aangebied in vennootskap met Brainwave Productions en Wordsmith's Theatre Factory.
Die produksie is in Afrikaans, maar 'n opsie is beskikbaar vir 'n weergawe met Engelse onderskrifte.
Kaartjies is nou te koop by Quicket. Die produksie is net tot 27 Junie aanlyn beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'