OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie vra inwoners om na vore te kom met inligting rakende die identiteit van 'n vrou wat Saterdag 15 Julie omstreeks 23:00 op die N12 naby Rosebank raakgery is en dood is weens haar beserings.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, ondersoek Oudtshoorn-speurders die omstandig-hede rondom die vrou se dood.
'n Verdagte in die saak is reeds in hegtenis geneem op aanklag dat hy die motorvoertuig bestuur het terwyl hy onder die invloed van drank was.
"Daar word beweer dat 'n Volkswagen Jetta die voetganger getref het. Die slagoffer het veelvuldige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die polisie het die bestuurder in hegtenis geneem," sê Spies.
Volgens Spies is die verdagte later vrygelaat en gewaarsku om op 22 Februarie 2024 in die hof te verskyn.
Hy het bygevoeg dat die identiteit van die oorledene nog vasgestel moet word en dat 'n soektog vir naasbestaandes voortgaan.
"Die oorledene het 'n blou trui en grys broek aangehad. Sy het ook 'n goue stopsel in haar mond gehad en vlegsels in haar hare," sê Spies.
Die polisie vra dat enigiemand wat kan help om die oorledene of haar naasbestaandes te identifiseer na vore sal kom. Enige persoon met inligting kan adjudant-offisier Willie Apollis by 044 203 9000 of 082 069 2430 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’