OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die Hungry Lions-vlakkiekrieketspan het die afgelope naweek koning gekraai in die gewilde BBL-eindstryd (Big Bash T20-uitdaagreeks) en die Pro Stars 'n hewige krieketles geleer wat sekerlik lank onthou sal word.
Hierdie toernooi is een van die plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy Charity, se vele gemeenskapsprogramme wat aangebied word met die oog op die ontwikkeling van die jeug en breë gemeenskap.
Die Groter Oudtshoorn-burgemeester, Chad Louw, het die wenprys van R3 000 geborg.
Die Hungry Lions het die loot gewen en besluit om Pro Stars in te stuur om te kolf en hulle vir 'n skamele 27 lopies uitgeboender. Die Pro Stars se toporde was van bal een af onder groot druk geplaas deur die Lions se pynlike perfekte lyn- en lengte aflewerings wat hulle op 'n beweeglike Mandelablad-kolfblad volgehou het.
In hierdie opsig moet 'n mens veral Juan "Jantos" Murphy, Jean-Claude Lucas en Tyrese Karelse uitsonder wat verantwoordelik was vir die ineenstorting van die Pro Stars se toporde.
Juan "Jantos" Murphy se brute spoed was een te veel vir Pro Stars se toporde.
Ruaan Fielies, aanvangskolwer van die Pro Stars, het moedig wal gegooi terwyl paaltjies rondom hom konstant getuimel het, maar selfs hy kon net nege lopies behaal voordat hy ook goedkoop uitgehaal is.
Die Lions se toporde, Cameron Rhoode en Ricardo "Kallah" Pietersen, het daarenteen die klein teiken van 28 lopies verspotmaklik in die sesde boulbeurt afgeblits sonder om 'n paaltjie te verloor.
Veral Pietersen het soos 'n man op 'n missie gekolf en twee monster sesse in sy kolfbeurt gemoker.
Sport Buddy Charity se voorsitter, Sue-lanya Ewerts, het die spanne bedank wat naweek na naweek ondanks skroeiende hitte opgedaag het om hul wedstryde te speel.
Ewerts het ook Louis Fourie, Across the Board Insurance, Wesbank-tennisklub, Oasis Water en die SWD-skeidsregter van die dag, Brendan Lawrence, lof toe geswaai vir hul betrokkenheid en borgskappe vir die BBL-toernooi.
Ricardo "Kalla" Pietersen was in 'n omgesukkelde bui met die kolf en het twee monstersessies gemoker.
Regs is Groter Oudtshoorn-burgemeester Chad Louw, wat die R3 000 eerste prys van die BBL-toernooi geborg het. Van links is Wyndham Ewerts van Sport Buddy Charity (toernooi-organiseerder), Cameron Rhoode (kaptein van die Hungry Lions ) en Ricardo Pietersen (onderkaptein van die Hungry Lions). Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'