OUDTSHOORN NUUS - Die kantoor van die burgemeester doen 'n beroep op inwoners en sakemense van Oudtshoorn om 'n hand uit te reik na die Wesbank-tennisklub vir die opgradering van die klub se agt tennisbane.
Die tennisbane is in 2003 deur die munisipaliteit aan die Wesbank-tennisklub oorgedra en die munisipaliteit mag dus nie fondse bewillig vir die opgradering nie.
Die koste van die kontrak om die oppervlaktes van die agt tennisbane te herseël beloop meer as R300 000.
Die Wesbank-tennisklub kon met projekte en deur donasies uit die gemeenskap daarin slaag om meer as R250 000 in te samel, maar kort dringend 'n verdere R48 000.
Volgens Louis Uys, voorsitter van die klub, benodig hulle glad nie geld vir die maand tot maand bestuur van die klub nie, bloot vir die opgradering.
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester sê: "Dit sal bitter jammer wees as Oudtshoorn die enigste tennisklub in die dorp met sy bane sou verloor. Hier word jaarliks talle toernooie aangebied, van ons jong opkomende sportmanne en -vroue word hier opgelei en die tennisbane is deel van die sportfasiliteite wat mense na Oudtshoorn lok.
"Ek doen 'n beroep op ons gemeenskap om die Wesbank-tennisklub tegemoet te kom en met finansiële bydrae te help sodat tennis in Oudtshoorn nie verlore gaan nie."
Louis Uys se kontaknommer is 082 835 8555.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'