OUDTSHOORN NUUS - 'n 50-jarige man van Oudtshoorn, wat 'n 12-jarige meisie opgetel en op die mond gesoen het, is aan seksuele aanranding skuldig bevind en Woensdag in die streekhof 'n opgeskorte vonnis opgelê en vir 24 maande onder huisarres geplaas.
Streeklanddros Daniël Boks, het met vonnisoplegging van Brian Wagenaar, 'n sekerheidsbeampte, gesê dat hy sy vertrouensposisie misbruik het.
Die kind was in 'n dansgroep van sy voormalige vrou en hulle was besig om toerusting weg te pak toe hy haar opgetel en op die mond gesoen het.
Sy het groot geskrik en is skaam oor die voorval.
Die landdros het sy kommer uitgespreek oor die feit dat Wagenaar 'n ander weergawe aan die korrektiewe beampte gegee het as in sy getuienis.
"Die beskuldigde het 'n gaping probeer vat en aan die beampte gesê dat hy net die kind se nek gestreel het. Ek gee u nog een kans. Respekteer kinders en as sekerheidsbeampte het mense ook vertroue in u."
Volgens die landdros glo hy nie dat die beskuldigde gelukkig sal wees as ander volwasse mans sy twee dogters soen nie.
Wagenaar se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof vir 'n korrektiewe-toesigvonnis gevra omdat hy 'n eerste oortreder is en wel berou toon. Direkte gevangenisstraf is nie die enigste opsie nie, het Badenhorst gesê.
Volgens die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die voorval 'n effek op die kind gehad en sy is baie skaam en hartseer oor wat die beskuldigde aan haar gedoen het.
Hy is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is asook korrektiewe toesig van 24 maande wat behels huisarres vir 24 uur per dag vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en sestien uur per maand gratis gemeenskapswerk doen.
Die hof het ook gelas dat sy besonderhede in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word en hom onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'