Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Plaaswerkershuis op 'n plaas op Volmoed, is Dinsdagmiddag deur 'n brand verwoes.
Volgens die huisbewoners, het vonke van 'n vuur wat hulle in die kaggel gemaak het, vermoedelik op meubels wat buite teenaan die huis gestaan het, beland.
Andries Witbooi wat in die huis woon, sê hy en sy gesin het vuur in die kaggel gemaak omdat dit 'n koel dag was. Volgens hom het die brand van buite deur die venster in die kombuis gekom en toe baie vinnig na die res van die huis versprei.
Witbooi vertel dat die brand reeds buite beheer was toe hulle dit ontdek het. Die Oudtshoorn Courant was op die toneel voordat die brand heeltemal geblus was en toe was die binnekant van die huis reeds in puin gelê.
Die gesin kon daarin slaag om enkele items en klere te red. Oudtshoorn-brandweerdienste was binne minute op die toneel om die brand te blus, maar moes op 'n stadium by 'n nabygeleë plaasdam water haal om oorblywende vlamme en smeulende dele te blus.
Die huis se sitkamer, kombuis en hoofslaapkamer is heeltemal verwoes.
Onder die huisraad wat vernietig is, was 'n grootskerm TV en 'n musiekstelsel. Niemand is in die brand beseer nie.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Brand verwoes plaaswerkershuis
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'