OUDTSHOORN NUUS - Dawid Bresler, 'n afgetrede amptenaar van korrektiewe dienste, is 'n man van vele talente. Bresler woon op Oudtshoorn en wil sy stokperdjies met die inwoners deel.
Hy maak al sedert die tagtiger jare kunswerke en meubelstukke uit vuurhoutjies.
"Ek het as tronkbewaarder onder meer by Robbeneiland gewerk in die tyd wat Nelson Mandela daar aangehou is en later jare ook by Pollsmoor se maksimum-gevangenis. Die vuurhoutjiewerk was deel van my tydverdryf en ook ontspanning.
"Ek het stoele en tafels gemaak en baie van dit geskenk om as pryse uitgeloot te word. Die meubelstukke wat ek gemaak het was tot in Die Burger en The Daily News gewees," vertel hy trots.
Bresler sê hy het in die vroeë negentiger jare by Lion Match Factory aangeklop en hulle van sy talent vertel en hulle het besluit om hom te borg.
Na hy sewe jaar gelede van Ladismith na Oudtshoorn getrek het, het 'n nuwe gogga hom gebyt.
"Ek het getrou met die liefde van my lewe, Rensie, en te danke aan haar het ek begin tuinmaak en ook begin om horlosies en ander items uit herwinbare materiaal te maak."
Vir Bresler is optelgoed beslis hougoed.
"Ek kan 'n horlosie uit enigiets maak. Van bottels, houtstukke wat in die veld opgetel word en blikke. In ons huis is meer as 80 horlosies wat ek self gemaak het. Ek het al altesaam oor die 200 horlosies gemaak."
Bresler sê hy maak nie net die horlosies nie, maar herstel ook antieke horlosies.
"My groot liefde is die Big Ben-horlosies. Baie parte moet bestel word en ander maak ek self."
Hy sê dat horlosies definitief vir hom iets spesiaal is.
"Die horlosie herinner mens daaraan dat tyd wat verby is nooit weer ingehaal kan word nie en dat môre vir niemand belowe is nie."
Een van sy vele kunswerke wat hy met vuurhoutjies maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'