Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse hondeskou van die George- en Outeniqua-hondeklubs is die afgelope naweek in Oudtshoorn aangebied en honde-eienaars vanoor die land het deelgeneem.
Van die plaaslike honde-eienaars wat deelgeneem het en uitstekend presteer het was Gerla Anderson van De Rust, oudinwoner Phillip du Plessis en Lorish Olivier.
FOTOGALERY: Die jaarlikse hondeskou
Die Outeniqua-hondeklub en George-hondeklub bied die skou saam aan. Elkeen van die klubs bied twee skoue oor die naweek aan wat beteken dat daar vier skoue in totaal was. Die skoukomitee bestaan uit Mark en Gerla Anderson, Chris en Melani Nerza, Jeané Nel en Louhesta Nel.
Volgens Jeané Nel van die Outeniqua-klub was die jaar 'n reusesukses.
"Nie eens die reën van Vrydag het ons ondergekry nie. Dit was heerlik om saam met almal te skou."
Volgens haar het mense 'n wanpersepsie oor sulke skoue.
"Ja, ons spog met hoe mooi ons honde is, maar dit gaan oor hoe suiwer die bloedlyn van die hond is. Ons probeer die honde so opreg as moontlik hou, want aan die einde van dag gaan dit onder meer oor die temperament van die hond en die suiwerheid van die teling.
"Groepe waarin die honde deelgeneem het was van jaghonde, terriers tot veeldoelige honde. Hy sê dat telers vanoor die land heen aan die hondeskou in Oudtshoorn deelneem."
Die jaar was daar ook 'n internasionale Victor Lobakin van Azerbaijan.
Hy het aan Oudtshoorn Courant vertel dat hyself ook 'n hondehanteerder was en met worshonde geskou het.
"Ek het al verskeie skoue reg oor die wêreld beoordeel, maar hierdie was my eerste keer in Suid-Afrika. Dit is 'n baie mooi land met fantastiese telers. Dit was vir my 'n eer en voorreg om die skou te beoordeel."
Die organiseerders het ook al die borge wat gehelp het om die skou moontlik te maak bedank.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’