OUDTSHOORN NUUS - Een van twee mans van Bridgton op Oudtshoorn, wat 'n man van 'n sak hondekos en R8 beroof het, is in die Oudtshoorn-streekhof sewe jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Gabriel Mei (19) het skuldig gepleit terwyl sy medebeskuldigde, Freddy Jullies, skuld ontken, en hul sake geskei is.
Mei het erken dat hy en Jullies vir Branco Korkee met 'n mes gedreig en gewurg het.
Hy het die sak hondekos ter waarde van R190 gevat terwyl Jullies sy hande in Korkee se sakke gedruk en hom van R8 kontant beroof het. Hulle het die hondekos verkoop en die geld vir hulself gebruik.
Mei se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof vir 'n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) gevra omdat die klaer nie enige beserings opgedoen het nie en wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir 'n eerste oortreder vir roof.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het egter gesê dat 'n vonnis soos wat die verdediging aanbeveel nie van pas sal wees nie.
"Die gemeenskap van Bridgton is moeg vir die soort misdaad en die beskuldigde is al voorheen aan dieselfde soort misdaad skuldig bevind. Hy impliseer sy medebeskuldigde en is bereid om in sy saak vir die staat te getuig."
Die waarde van die items waarvan die klaer beroof is, is ook min en alles in ag genome is daar wel buitengewone omstandighede om 'n mindere vonnis op te lê het Smith gesê.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het die aanbeveling van die staatsaanklaer aanvaar en Mei tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
•Jullies bly in aanhouding en sy saak is vir verhoor na 'n ander hof oorgeplaas.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'