OUDTSHOORN NUUS - Die 66 klasmaats van die Hoërskool Môrester se 1977 matriekklas wat die afgelope naweek na 40 jaar hul eerste reünie bygewoon het, het hul harte en beursies wyd oopgemaak met skenkings aan die huidige leerders van die skool en planne om voortaan meer by die skool betrokke te raak.
Die oudleerders, van regoor die land en selfs van so ver as Namibië, het tydens Sondag se spesiale dankseggingsdiens in die skoolsaal groot hoeveelhede sanitêre doekies, toiletware, sportklere asook skooldasse wat elkeen vir die naweek gekoop het, aan die skool oorhandig.
'n Kers is ook tydens die diens aangesteek ter nagedagtenis aan ontslape skoolmaats wie se name op die kers aangebring is.
Davey Booysen, 'n oudleerder, het die kerkdiens waargeneem.
Hy het die hoop uitgespreek dat Môrester die skool sal bly wat dit oor die meer as 80 jaar van sy bestaan was.
Angeline le Kay, voormalige burgemeester van Oudtshoorn en ook 'n oudleerder, het tydens die oorhanding van die items gesê dat dit nie die laaste keer sal wees wat hulle gaan help met die sosiale opheffing van die skool se leerders nie. Volgens haar het die groep groot planne om terug te ploeg in hul Alma Mater.
Die adjunkhoof van Môrester, Roy Smith, het die oudleerders namens die skool en sy leerders vir die skenking bedank.
Die skool se huidige skoolhoof, Jacobus Francis en die skoolhoof van 1969 tot 1977, Harold Muller, was tydens Vrydagaand se verwelkomingsfunksie twee van die sprekers.
Verskeie voormalige opvoeders het die naweek meegemaak en het Sondag spesiale dankiesê sertifikate van die oudleerders ontvang.
Die Klas van '77 met van hul oudonderwysers.
ARTIKEL & FOTO'S: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'