OUDTSHOORN NUUS - Hoërskool Môrester, Hoërskool Oudtshoorn, Hoërskool Fezekile en Langenhoven Gimnasium het Oudtshoorn se vlag hoog laat wapper toe hulle op Donderdag 2 Februarie, Wes-Kaapse departement van onderwys-toekennings in Leeuwenhof Kaapstad vir uitnemende resultate ingepalm het.
Hoërskool Môrester het twee toekennings ontvang waaronder grootste verbetering in die slaagsyfer vir periode 2020 tot 2022 vir openbare skole asook grootste verbetering in die slaagsyfer vir die periode 2020 tot 2022 vir tegniese skole.
Dis voorwaar 'n groot prestasie as mens in ag neem dat die skool verlede jaar Junie vir twee dae deur die beheerliggaam en ouers gesluit was omdat hulle ontevrede was oor die aanstellingsprosedure van 'n permanente skoolhoof.
Die skool het intussen 'n nuwe waarnemende hoof, Brandon Claassen aangestel.
Claassen, 'n uitstaande ekonomie- en besigheidstudiesonderwyser, het in 2019 'n toekenning vir uitnemendheid in hoërskoolopleiding ontvang. Hy is saam met 'n aantal onderwysers uit die Eden-Karoo-streek vereer en was die enigste leerkrag van Oudtshoorn wat 'n toekenning ontvang het.
So het Hoërskool Môrester se matrieks gevaar:
Matriekslaagpersentasie van 81,9% teenoor verlede jaar se 73,3%.
Vakke wat 100% slaagpersentasie ontvang het, is elektriese tegnologie, verbruikers studies, Engels, siviele tegnologie, meganiese tegnologie en toerisme.
Die skool se topdrie leerders is Tamren Kiewiets, Blanché Hendricks en Marcha Flippies. Kiewiets het ook drie A-simbole in Afrikaans, LO en Engels behaal. Kiewiets het aangedui dat sy LLB aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer, terwyl Hendricks by dieselfde universiteit BCom gaan studeer.
Hoërskool Fezekile
Fezekile het 'n toekenning ontvang vir verbetering van universiteitstoelatings van periode 2020 tot 2022. Die skool spog vanjaar met 'n slaagpersentasie van 86,3% teenoor die 84,9% van die vorige jaar.
Die slaagsyfer oorskry die gemiddelde slaagkoers van Eden (83%) sowel as dié van die Wes-Kaap (81%). Radebe Mpati is die skool se toppresteerder met 'n slaagpersentasie van 85% met Thembakuye in die tweede plek met 78%.
Mpati gaan vanjaar aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer en was Vrydag reeds by die universiteit. Altesaam 35 van die suksesvolle kandidate het met toelating tot graadstudies geslaag, 23 met toelating tot diplomastudies en 11 met sertifikaatstudies.
Langenhoven Gimnasium
Langenhoven Gimnasium het 'n toekenning ontvang vir beste tegniese skool in die Wes-Kaap wat ook akademiese vakke aanbied. Nie net spog die skool met 'n uitstekende 98,1%. slaagsyfer nie, maar ook met 13 A-kandidate en 139 A-vaksimbole.
Om alles te kroon is die skool se graad-gemiddeld 63,8%. Die beste kandidate is Tanya Smit (94,86%), Franke du Plooy (92,86%), Jannike van Rensburg (91,43%) en Liebe Viljoen (91%).
Hoërskool Oudtshoorn
Hoërskool Oudtshoorn het 'n provinsiale toekenning vir beste vordering en uitnemendheid in Engels Huistaal ontvang. Struisies het 'n eerste plek in Eden-distrik vir Engels Eerste Taal ontvang, met Hoërskool Outeniqua en Hoërskool Langenhoven, Riversdal onderskeidelik tweede en derde.
Vir Engels Huistaal het Struisies 'n algehele tweede plek in Eden ingepalm.
Hoërskool Oudtshoorn het vanjaar 'n slaagsyfer van 97,1% behaal met 10 A-
kandidate. Twee leerders het 'n hoër sertifikaat kwalifikasie behaal, 12 het 'n diplomakwalifikasie en 88 het universiteitstoelating verwerf. Die topdrie leerders van die skool is Dylan Dreyer met 92,71%, Anke Kruger met 88,71% en Kai Barry met 87,86%. Dreyer het ook 100% vir besigheidstudies behaal.
Dreyer het in 2020 sy pa, bekende mediese dokter in die dorp, Nolan Dreyer, aan die dood afgestaan en is ook twee weke voor die eindeksamen met tipe1-diabetes gediagnoseer - 'n voorbeeld van deursettingsvermoë ondanks teenspoed.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'