OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Internasionaal (KKI) het nog groot planne met die ou Bokomo-gebou en silo's na die opening van die Ostrich Emporium as afsetpunt van volstruisprodukte en 'n koffiekroeg.
So het Johan Schoeman uitvoerende hoofbestuurder van KKI verlede Donderdagaand tydens die algemene jaarvergadering van die erfenisorganisasie, Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) gesê.
Die eerste nuwe projek wat volgens Schoeman reeds ver gevorder het, is 'n trein wat toeriste vanaf Hartenbos na Oudtshoorn bring.
"Ons visie is om bussies by Ostrich Emporium gereed te hê wat nadat besoekers 'n koppie koffie gedrink het, hulle na die Kango-grotte en 'n volstruisplaas te neem.
Die tweede projek in die pyplyn is om die twee graansilo's aan die suidekant van Ostrich Emporium in 'n boetiekhotel te omskep waar toeriste kan oornag. Derdens is die KKI in gesprek met 'n vrou van Le Roux-stasie wat oor baie geskiedkundige foto's, onder andere van die destydse besoek van koningin Elizabeth van Engeland, beskik vir gebruik in 'n uitstalruimte in Ostrich Emporium.
Die vierde projek wat in beplanning is, is om die standbeeld van George Wallis, oudburgemeester van Oudtshoorn, wat tans by die Queens Mall staan, te verskuif en tot sy reg te laat kom.
Die argitek, Johan Smit, het aanwesiges 'n kykie gegee oor hoe die ou gebou in die huidige pragstuk omskep is terwyl Johan Breunissen, eienaar van Beans About Coffee, interessante staaltjies oor die treine en treinspore van weleer vertel het.
Die bestuur van Heritage Oudtshoorn Erfenis vir 2018/19 is van links: Johan Smit (kassier), Ambrose Carelse (erfenisbeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit), Garnett Wicomb, Hazel Jonker (voorsitter), Alan Tonkin, Marianne Spies (sekretaresse), Caro McLachlan en David Adderley. Afwesig: Hilda Boshoff.
'n Versamelaar van ou plaasimplemente waarvan 'n aantal in die koffiewinkel te siene is, James Williams, het oor sy stokperdjie gepraat het.
Die voorsitter van HOE, Hazel Jonker, het in haar voorsittersverslag, die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank vir die inisiatief om te begroot vir 'n erfenisopname van alle strukture op Oudtshoorn ouer as 60 jaar.
"Ons bied ons volle ondersteuning hiervoor en hoop dat dit so gou moontlik sal begin."
Volgens Jonker is HOE in 2010 gestig en in 2013 amptelik by Erfenis Wes-Kaap geregistreer. Die erfeniskomitee sien om na die erfenis van Oudtshoorn en vergader elke twee maande terwyl die permitkomitee tweeweekliks bymekaarkom om aansoeke vir verbeterings en aanbouings van ou geboue te oorweeg.
Eienaars van geboue ouer as 60 jaar moet toestemming van Erfenis Wes-Kaap op aanbeveling van Heritage Oudtshoorn Erfenis kry om enige veranderinge aan ou geboue aan te bring.
Jonker het ook haar dank teenoor die plaaslike pers uitgespreek vir hul ondersteuning deur die jaar asook die publiek vir hul belangstelling en omgee vir erfenis.
Enige persoon van die publiek is welkom om teen 'n eenmalige betaling van R100 by HOE aan te sluit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'