OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekendstelling van 'n mondelingse geskiedenisinisiatief het op 25 Oktober by Toekomsrus-gemeenskapsaal plaasgevind.
Oudtshoorn-munisipaliteit het die geleentheid in samewerking met die Wes-Kaapse regering gehou. Die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het ook die geleentheid bygewoon om die inisiatief te vier. Humoristiese mondelinge was aan die orde van die dag met vertellings en staaltjies van vertellers se grootword dae in Oudtshoorn.
Storievertellers, soos Poem Mooney, Tommy Johnson en Hazel Jonker, het die gehoor vermaak deur hulle destydse ondervindinge te deel.
Eerw. Boesak, wat die programleier was, het gesê dat elke storie soos 'n rotstekening is en dat dit iets oorvertel van die verlede. Johnson het die hele geleentheid saamgeneem en bygevoeg dat, "die flenters van ons dorp opgetel moet word om dit weer saam te voeg".
Jonker het vertel dat sy Oudtshoorn en sy mense van alle kulture onthou as 'n dorp waar almal nog vir mekaar omgegee het - 'n dorp van liefde en vrede.
Johan Allers, speaker van Oudtshoorn-munisipaliteit, het Marais aan die gehoor voorgestel en haar bedank dat sy altyd vir die geleenthede opdaag. Marais het in haar toespraak gesê dat Oudtshoorn ryklik geseën is met soveel staaltjievertellers in hulle midde.
"Dit is baie belangrik dat ons weet wat ons geskiedenis is, maar dat ons ook weet waarheen ons op pad is. Dit is om hierdie rede dat ons die inisiatief bekendgestel het, dis vir ons nageslag om die stories te deel wanneer ons nie meer hier is nie. Ons moet ons geskiedenis bewaar met die vertel van die stories."
Die stories wat tydens die geleentheid vertel is, is op band opgeneem en sal in die museum se argiewe bewaar word. Dit sal ook in die biblioteek vir die nageslag beskikbaar wees.
Marais het ook bygevoeg dat nie alle gemeenskappe die onreg wat hulle aangedoen is verwerk het nie, daarom is die inisiatief so belangrik.
Saturnus Primêr het die gehoor met die lied, Kinders van die wind, vermaak en Oudtshoorn Vaardigheidskool het twee dans items gelewer.
Saturnus Primêr met hulle opvoering 'Kinders van die Wind.'
Gaste luister aandagtig na die verrigtinge.
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'