Gallery Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - As alles volgens plan verloop, sal die geskiedkundige tolhuis in die Montagupas reeds in Desember tot sy volle glorie herstel wees.
Dit sal dan betyds reg wees vir die duisende vakansiegangers van regoor Suid-Afrika en die buiteland wat elke jaar oor Desember op die gebied toesak.
Die tolhuis, meer as 170 jaar oud en een van George se mees historiese geboue, is erg beskadig tydens die brande in Oktober verlede jaar.
Oor die laaste paar jaar, voor die brande, is dit gerestoureer danksy pogings van Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis. Die brande het egter dinge lelik deurmekaar gekrap en die gebou byna heeltemal verwoes.
Herstelwerk het Dinsdag in alle erens begin - heel gepas op Erfenisdag. Werkers en belangstellendes het reeds van vroeg by die tolhuis byeengekom, maar aanvanklik is herstelwerk bietjie opgehou as gevolg van fyn reën.
Die reën kon egter nie die geesdrif van aanwesiges demp nie. Warm koffie en pannekoek is verkoop om fondse in te samel vir die herstelwerk. Soms, wanneer die reën vir kort rukkies opgehou het, is kinders op waritte geneem.
Dié groep kinders en volwassenes het Dinsdag 'n rit op 'n wa in die Montagupas by die tolhuis geniet.
Stols het aan die George Herald gesê sy is baie opgewonde. Toestemming is uiteindelik verleen dat herstelwerk kan begin en donasies is in plek om die dak op te sit.
"Ons is dankbaar vir die gemeenskap van George wat uit die goedheid van hul harte alles geskenk het wat nodig is. Ons glo die dak sal teen Donderdag ten volle op wees."
Daarna gaan die geute en die binnewerk van die tolhuis aandag kry. Die binnewerk is taamlik gekompliseerd omdat die mure soveel skade opgedoen het. Die klip in die mure moet eers behandel word. Daarna sal sement gevoeg waar nodig en die vensters en vloer sal ook aandag kry. Waneer dit alles afgehandel is, sal die meubels wat geskenk is ingedra word.
Kyk 'n video hieronder
Volgens Stols sal pannekoek en koffie weer later gereeld daar verkoop word. Besoekers sal ook op ritte op perdewaentjies geneem word om die natuur te kan geniet.
Sy het gesê die mikpunt met die tolhuis is om dit 'n toerismebestemming te maak waar mense kan luister na die wonderlike geskiedenis van George. Die tolhuis is uniek, want daar is min tolhuise wat nog staan.
Sy het benadruk dat die brande nie die mense betrokke by die tolhuis ondergekry het nie. Dit het hulle eerder aangemoedig om 'n groot sukses van die tolhuis-projek te maak.
Werkers Dinsdag besig met herstelwerk aan die tolhuis. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'